Die onverdraagsaamheid van die ANC en die uitdagende houding van die DA rakende die DA se beplande optog na die Luthuli-huis more, het al die elemente van ‘n konflik en albei partye sal skuld en verantwoordelikheid moet aanvaar indien dit gewelddadig raak, sê dr. Pieter Groenewald, die Vryheidsfront Plus se parlementêre leier.
“In dieselfde asem is dit nou duidelik dat die ANC se dreigemente van geweld ernstig opgeneem moet word, veral gegewe die party se geskiedenis van gewelddadige politieke onverdraagsaamheid.
“In 1994 is 19 mense voor Shell House dood en talle beseer in ‘n soortgelyke optog van die IVP, terwyl ‘n optog in 2012 na Cosatu-Huis ook bloedig geëindig het.
“Teen die huidige agtergrond van ernstige dreigemente moet die vraag dus gevra word of die DA se bedenklike motiewe vir die optog so kort voor die volgende registrasienaweek, enige beserings of lewensverlies sal regverdig.
“Volgens die DA is die optog oor werkskepping, maar albei partye het ewe min diepte in hul ekonomiese denke en deel dieselfde siening oor arbeidswette wat werkloosheid aanhelp.
“Dit is ook nie billik teenoor die Polisie nie aangesien hulle weer in die middel sal moet staan van ‘n uiters gevaarlike situasie en beskuldig sal word indien geweld sou losbars.
“Wat die situasie vererger is die roete waarlangs die optog sal beweeg na die ANC se hoofkwartier. Dit gaan deur hoë geboue vanwaar voorwerpe maklik uit vensters na onder gegooi kan word, en bied ook nie vinnige ontsnaproetes indien mense moet vlug nie,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403