Samewerking tussen opposisiepartye is noodsaaklik ten einde die ANC se dominante posisie in die Suid-Afrikaanse politiek te beëindig.
Die groot vraag is watter tipe samewerking die beste is om hierdie doel te bereik.
Die DA se manier is om met ander partye saam te smelt terwyl die DA steeds sy identiteit behou. Hierdie DA-insluk van partye soos met die OD en amper Agang, maak dat baie anti-ANC stemme verlore gaan van OD- en Agang-lede wat nie daarmee saamstem nie. Dikwels slaag hierdie metode slegs om die leiers te akkommodeer sonder dat die volgelinge in groot getalle die samesmelting steun. Die mislukking van die DA-Agang samesmelting bewys dit.
Die VF Plus manier is beter. Elke party behou sy waardes en identiteit en kry so maksimaal sy ondersteuners by die stembus om dan na die verkiesing as ’n koalisie met ander partye saam te werk teen die ANC. Sonder die VF Plus, ACDP en ander partye se samewerking op hierdie wyse sou me. Zille nooit in 2006 burgemeester van Kaapstad geword het nie.
Hierdie is ook die wyse waarop die Kollektief vir Demokrasie tussen Cope, die VF Plus, die ACDP en die UCDP tot stand gekom het. Ander opposisiepartye is steeds welkom om by hierdie kollektief aan te sluit.
Dit is uiters belangrik dat die maksimum opposisie-kiesers hierdie verkiesing moet gaan stem. Ons kan nie bekostig dat mislukte samewerkingpogings daartoe lei dat meer opposisie-kiesers van die stembus wegbly nie. By die vorige algemene verkiesing het meer Suid-Afrikaners wat stemgeregtig is van die stembus af weggebly, as wat vir die ANC gestem het.
In 2009 het 43% van alle Suid-Afrikaners wat mag stem, nie gestem nie. Die gevolg was dat die ANC die verkiesing gewen het terwyl maar slegs 37% van alle Suid-Afrikaners wat mag stem, vir hulle gestem het. As net die helfte van die nie-stemmers teen die ANC gaan stem het, het die ANC verloor.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 083 419 5403