Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Cogta moet ingryp by Ekurhuleni

Die VF Plus het die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Mzikayifani Khumalo, versoek om dringend in te gryp nadat die Ekurhuleni-metro se speaker nie ʼn raadsvergadering belê het om die geouditeerde jaarlikse finansiële verslag en state aan die raad voor te lê nie.

Die speaker is me. Nthabiseng Tshivhenga van die EFF.

Kragtens artikel 127 (2) van die Munisipale Finansiële Bestuurswet moet die geouditeerde jaarlikse finansiële verslag en finansiële state nie later nie as 31 Januarie aan die raad voorgelê word.

Die VF Plus het reeds op 7 Desember verlede jaar ‘n skrywe aan die speaker gerig om ʼn raadsvergadering spesifiek vir hierdie item aan te vra.

Die versoek wat in Desember geïgnoreer is, is weer vroeg in Januarie 2024 ingedien. Twee raadsvergaderings het wel op 25 Januarie 2024 plaasgevind, maar die item het nie op die agenda verskyn nie.

Die speaker se onbereidwilligheid om die geouditeerde jaarlikse finansiële verslag en finansiële state voor te lê, vertraag nie net die werksaamhede van die munisipale komitee op openbare rekeninge (MPAC) se werksaamhede hierin nie, maar is ook ‘n oortreding van die Munisipale Finansiële Bestuurswet.

Dit is vir die VF Plus duidelik dat die speaker die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Nkululeko Dunga, help om hierdie geouditeerde jaarlikse finansiële verslag en finansiële state van die raad te weerhou.

Die groot vraag is waarom die EFF nie wil hê dat hierdie belangrike dokumente die lig moet sien nie. Die VF Plus vermoed dit is om te keer dat verdoemende inligting oor die metro se finansiële bestuur blootgelê word.

Die VF Plus is van mening dat die speaker lank reeds haar kwota van ondeurdagte besluite en foute bereik het en dat daar nou daadwerklik teen haar opgetree moet word vir die nienakoming/oortreding van munisipale wetgewing.

Inwoners van Ekurhuleni word nou gestraf vir swak leierskap wat nie hul belange eerste stel nie.

Die VF Plus sal dit nie daar laat nie en het daarom die aangeleentheid na die provinsiale wetgewer verwys vir dringende ingryping.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.