fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC bestuur JB Marks na fiskale afgrond

Skokkende syfers wat die erge vlak van finansiële wanbestuur in die ANC-beheerde JB Marks-plaaslike munisipaliteit uitlig, is vandag tydens ʼn raadsvergadering blootgelê.

Die halfjaarlikse finansiële state toon reeds ʼn begrotingstekort van R157 miljoen vir die finansiële jaar tot dusver aan. Dit sluit tekorte van 20% tot 28% op onder meer die begrote inkomste vir elektrisiteit, water en vullisverwydering in.

Intussen word oorbesteding van 13% aan munisipale diensverskaffers teen R41 miljoen per maand, oftewel R246 miljoen vir die halfjaar, ook vermeld.

Wat hierdie syfer skokkend maak, is die feit dat die geld bestee word aan tenderpreneurs vir dienste wat die munisipaliteit self behoort te lewer.

Die VF Plus het reeds voor die begin van die finansiële jaar in Julie 2023 uitgewys dat dit ʼn onbefondsde begroting sal wees en daarom ook in stryd met munisipale finansiële wetgewing.

Die resultaat van die ANC-bestuur in JB Marks se oënskynlike weiering om die realiteite in die oë te staar en professionele finansiële bestuursbeginsels toe te pas, is nou daar vir almal om te sien.

Die ANC in JB Marks se wanbestuur en voortgesette stroping van munisipale belastinggeld word verder toegelig in ʼn verslag van die ouditeur-generaal (OG) wat vandag in die raad ter tafel gelê is.

Hierin word ongemagtigde, vrugtelose en onreëlmatige uitgawes van R898 miljoen vir die vorige finansiële jaar blootgelê.

Die OG meld spesifiek dat ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid in JB Marks gelei het tot ʼn algemene kultuur van wetteloosheid in die munisipaliteit.

Geen poging is tot dusver aangewend om diegene verantwoordelik vir die finansiële verval en korrupsie in die munisipaliteit aanspreeklik te hou nie.

Dit is ʼn skande dat die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp moet ly onder die verval en stroping van hul munisipale bates weens die ongebreidelde hebsug en onbekwaamheid van die ANC in JB Marks. Die VF Plus sal bly stry teen die korrupsie en onbevoegdheid in die munisipaliteit.

Kiesers moet in die komende verkiesing verseker dat die ANC vervang word met ʼn sterk en etiese koalisieregering waarvan die VF Plus deel vorm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.