fbpx
Vryheidsfront Plus

Brande by twee staatshospitale op een dag is bewys dat Suid-Afrika nie gereed is vir NGV nie

Brande wat die afgelope tyd by twee staatshospitale uitgebreek het, dien as verdere bewys dat mediese infrastruktuur in duie stort en dat Suid-Afrika nie gereed is vir die enorme uitdagings wat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal bring nie.

Die brande het uitgebreek by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria asook die Vredendal-hospitaal in die Wes-Kaap.

Laasgenoemde se oorsake is nog nie bekend nie. By Steve Biko het ‘n houthuisie aan die brand geraak wat tydelik gebruik word vir die berging van Covid-19-mediese afval.

Die VF Plus is bekommerd oor die nalatigheid in die berging en verwydering van mediese afval wat die afgelope jaar by staatshospitale voorgekom het asook die infrastruktuur wat teen ‘n versnellende pas heeltemal in duie stort.

Net minder as ‘n jaar gelede het die VF Plus ‘n groot hoeveelheid Covid-19-mediese afval by die Kopanong-hospitaal in Vereeniging gevind wat in stapels in die buitelug gestaan het.

Dit het toe geblyk dat die kontrakteurs wat die verwydering moes doen, nie betaal is nie.

Die party het in 2016 by die Steve Biko-hospitaal gaan ondersoek instel nadat mediese afval ook nie verwyder is nie en in die gange rondgelê het nadat kontrakteurs ook nie vir hul dienste vergoed is nie.

Hierdie soort optrede is uiters nalatig en gevaarlik en kan nie by ‘n hospitaal geduld word nie.

Die VF Plus maan die regering om nie blindelings voort te ploeter met die NGV nie aangesien die huidige stand van sake by staatshospitale en klinieke ‘n aanduiding is dat swak infrastruktuur, administratiewe gebreke en onbevoegdheid nie die omvang van die NGV sal kan hanteer nie.

Pasiënte se lewe word ook met die inploffing van infrastruktuur in gevaar gestel en dit maak dit al hoe moeiliker om pasiënte effektief te behandel en te versorg.

Dit is een ding om ‘n mooi bedjie in ‘n spreekkamer op te maak vir ‘n fotosessie om die NGV uit te beeld as om in die werklikheid sulke omvattende wetgewing tot uitvoer te bring.

Dit is nie nou die regte tyd om die NGV op die wetboek te plaas nie en daar moet van die ANC-regering ontslae geraak word sodat effektiewe dienslewering van uitstaande gehalte weer in staatshospitale gelewer kan word.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.