Terwyl brande skade aanrig, staan Vrede se brandweerwa buite werking.
’n Veldbrand wat onlangs digby die Vrede-substasie gewoed het terwyl die dorp se brandweerwa buite werking is, kon groot skade aanrig. Dit is ‘n enkele voorbeeld van dié brandweerdiens se ondoeltreffendheid.
Die VF Plus het nou daarop aangedring dat die Vrystaatse provinsiale regering moet toesien dat munisipaliteite in die Thabo Mofutsanyana-distrik voldoende voorsiening maak om die komende brandseisoen effektief te bestuur en hul brandbestrydingsverantwoordelikheid na te kom.
Die Phumelela-plaaslike munisipaliteit het aanvanklik slegs met ’n bakkie en ’n watertrok op die toneel gereageer. ’n Trekker-laaier-graaf (TLB) is later ontbied om pale uitmekaar te trek en te help keer dat die brand verder versprei.
Die plaaslike privaat sektor het aangebied om die stukkende voertuig op eie koste te herstel, maar weens die regering se onvermoë om die nodige herstelwerk te laat doen, staan die brandweerwa steeds buite werking.
Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe telkens moet inspring wanneer ’n munisipaliteit en distrik nie daarin slaag om hul verantwoordelikhede na te kom nie.
Indien die huidige begroting nie voldoende is nie, moet die provinsie en distrik ’n volhoubare oplossing vind en bestaande hulpbronne beter benut.
Omdat brandbestryding nie elke dag dieselfde vermoë vereis nie, behoort brandvoorkoming, opleiding en brandveiligheidsprogramme by skole en in gemeenskappe deel van dié benadering te wees.
Boere, inwoners en ondernemings kan nie aanhou om die gapings van munisipale onvermoë te vul nie. Die mense wat reeds die ekonomie dra, moet minder verantwoordelikheid vir ’n mislukte staat dra, nie meer nie.


