'n Aankondiging dat TotalEnergies Exploration & Production SA (TEEPSA) met boorwerk aan die suidwestelike kus van Suid-Afrika wil voortgaan, laat die wenkbroue lig.
Dit weens die aankondiging dat dié maatskappy reeds seismiese verkenning afgehandel het en nou boorgate wil sink om vas te stel of ekonomies benutbare olie- en gasreserwes daar voorkom.
Die stap wat nou geneem is, is die loodsing van 'n omgewings- en sosiale impakstudie, as voorwaarde vir 'n omgewingsmagtiging. Belanghebbendes word tans uitgenooi om aan die proses deel te neem.
Seismiese verkenning het oor die afgelope maande onder skoot gekom met Suid-Afrikaanse howe wat reeds twee projekte van dié aard verbied het. Dit is omdat die skade wat klankbesoedeling moontlik aan seelewe doen, toenemend in die kollig is. Kusgemeenskappe wat van die oseane afhanklik is, het die sterkste weerstand gebied.
In hierdie geval is seismiese verkenning egter reeds afgehandel en boorgate in gedeeltes wat só geïdentifiseer is, is die volgende stap. TEEPSA het die proses om daarvoor toestemming te kry, sowat 'n jaar gelede op 14 April 2021 gekanselleer. Vandag is aangekondig dat dit hervat word.
Dit is bekend dat PetroSA (voorheen Mossgas) se geriewe grootliks onbenut staan weens 'n gebrek aan grondstowwe. Gasbronne in die omgewing kan dus tot die redding van dié onderneming bydra terwyl dit Suid-Afrika meer energie-onafhanklik kan maak. Die vraag is teen watter omgewingsprys dit sal geskied.
In vorige verklarings het die VF Plus die wysheid daarvan om nou in nuwe bronne van fossielbrandstowwe te belê, bevraagteken. Aardgasbronne wat na raming vir die volgende vyftig jaar behoort te hou, is wêreldwyd beskikbaar. In die tussentyd is die nywerheidslande in 'n wedloop gewikkel om koolstofneutraal te word en dus die gebruik van fossielbrandstowwe tot die minimum te beperk.
In 'n verrassende stap het die energiereus, Sasol, uit 'n konsortium onttrek wat gas per pyplyn (die African Rennaisance Pipeline) vanaf die noorde van Mosambiek na sy aanleg by Secunda sou vervoer. Dié maatskappy het genoem dat hy na koolstofneutraliteit streef en dat 'n aandeel in die pyplyn die maatskappy vir dertig tot veertig jaar aan fossielbrandstowwe sal bind.
Verder is dit bekend dat Sasol sy kennis van die Fisher-Tropsschproses wil aanwend om groen waterstof te produseer. Dit is waterstofgas as brandstof, vervaardig met behulp van hernubare brandstowwe.
Dit is verstaanbaar dat elke maatskappy sy eie strategie en doelwitte nastreef en dat iets wat vir Sasol geld, nie noodwendig vir TotalEnergies sal geld nie. Nogtans moet die risiko dat ontginning van aardgas langtermynbenutting van marine hulpbronne in gevaar stel terwyl dit wêreldwyd uitgefaseer word, in ag geneem word.
Die VF Plus doen 'n beroep op toepaslik gekwalifiseerde wetenskaplikes om ‘n deeglike ondersoek van die invloed van hierdie bedrywighede op die seelewe, sowel as gemeenskappe wat van die see afhanklik is, te doen.
Die land en sy mense se langtermyn-belange moet swaarder weeg as korttermyn-finansiële gewin aan die een kant, óf emosionele reaksie aan die ander kant.