Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus in NMBM veroordeel vandalisme by Jubilee-begraafplaas en -sportstadion

Die VF Plus veroordeel die vandalisme by die Jubilee-begraafplaas en -sportstadion ten sterkste.

Na vele klagtes van inwoners van Jubileepark in Kariega (Uitenhage) het die VF Plus ‘n oorsigbesoek aan die begraafplaas en sportstadion gebring om self ondersoek in te stel na die omvang van die skade.

Met die besoek aan die Jubilee-begraafplaas is gevind dat talle van die NMBM se munisipale verorderings vir begraafplase en krematoria oortree word wat ‘n strafbare oortreding is.

Van die verordeninge wat oortree word en wat die VF Plus eerstehands gesien het, is: Mense wat doelloos ronddwaal tussen grafte en oënskynlik daar woon, grafstene wat omgegooi of beskadig is, ‘n grensmuur wat baksteen vir baksteen weggedra word, kissies met as wat uit die muur van herinneringe geruk en beskadig is, inwoners van nabygeleë woonbuurte wat kortpad neem deur die begraafplaas en rommel soos drankbottels wat oral rondgestrooi lê.

Van die sportstadion wat nog tot voor die Covid-19-inperkings in gebruik was, is net ‘n leë dop oor en is ‘n nes vir dwelmgebruikers en rondlopers.

Dit sal die belastingbetalers van die NMBM miljoene kos om te herstel. Geen sekuriteit is by enige van die geriewe in sig nie.

Die klaarblyklike rede vir die situasie is die inkontraktering van sekuriteitswagte drie jaar gelede op aandrang van die EFF. ‘n Sekuriteitsmaatskappy het tot voor die inkontraktering op ‘n maand-tot-maand-grondslag die sekuriteit by onder meer die begraafplaas behartig.

Dié maand-tot-maandkontrak is na die inkontraktering nie hernu nie en het aanleiding gegee tot ‘n groot veiligheidsprobleem en die vernietiging van munisipale eiendom.

Die VF Plus sal as lid van die metro se veiligheids- en sekuriteitskomitee daarop aandring dat doeltreffende sekuriteitsfirmas aangestel word om munisipale eiendom en openbare ruimtes te beveilig en daar sterk opgetree word teen vandale.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.