fbpx
Vryheidsfront Plus

De Ruyter sê hardop wat talle Suid-Afrikaners weet: Oplossings vir energiekrisis moet buite die staat gesoek word

Die frustrasie wat vandeesweek uit Eskom se gereelde mediakonferensie oor beurtkrag geblyk het, bevestig wat talle mense lankal weet: Dit is dat die regering eenvoudig nie aan kragverskaffing toegewyd is soos wat ekonomiese groei vereis nie.

Die VF Plus het oor die afgelope jare herhaaldelik daarop gewys dat ondernemings, huishoudings, skole en selfs munisipaliteite moet beplan om self in hul elektrisiteitsbehoeftes te voorsien.

Indien die staat enigiets bydra tot dit wat uit die vorige bedeling geërf is, moet dit as 'n bonus beskou word. Die waardevolste stap wat binne die staat se vermoë is, is om die mark vir elektrisiteit te dereguleer en administratiewe rompslomp te verwyder.

Duisende huishoudings en ondernemings het oor die afgelope jare gedeeltelik of volledig van Eskom onafhanklik geraak. Dit is gedoen deur sonpanele op dakke aan te bring, óf in alleenstaande- (off-grid), óf netwerkgeskakelde (grid tied) eenhede.

Eersgenoemde vereis duur batterypakke en oortollige krag (na eie verbruik voorsien en batterye gelaai is) gaan verlore. Laasgenoemde is aansienlik goedkoper en oortollige krag dra tot die nasionale kragvoorraad by.

Die kinkel in die kabel is dat netwerkgeskakelde eenhede slegs werk wanneer daar krag in die netwerk beskikbaar is. Met ander woorde tydens beurtkrag gaan alle krag wat só opgewek word, verlore.

Hibriede stelsels met bergingsvermoë, maar wat ook aan die netwerk gekoppel is, raak tans meer gewild.

Private berging van krag is duur, maar maak finansiële sin wanneer dit teen verlies aan produksie opgeweeg word.

Die belangrikste beperking op huishoudings om eie stelsels te installeer, is die finansiering daarvan. 'n Netwerkgeskakelde stelsel vir huishoudelike gebruik kan tans sowat R50 000 kos, terwyl bergingsvermoë die bedrag minstens sal verdubbel.

Die meeste huishoudings moet hierdie bedrae vergelyk met hul maandelikse kragrekening en bekostigbaarheid.

Banke kan grootliks bydra deur die finansiering van kragstelsels binne die hoofstroom van hul bedrywighede, soos voertuigfinansiering, in te sluit. Munisipaliteite kan selfs as agente vir banke optree, deur rekeninghouers met 'n gunstige betalingsgeskiedenis te keur en afbetaling deur diensterekeninge in te vorder.

So 'n finansieringstruktuur kan kraglewering aan rekeninghouers stabiliseer en munisipaliteite minder afhanklik van Eskom maak, terwyl dit banke se kernbedrywighede stimuleer.

Die VF Plus is oortuig daarvan dat derduisende produserende verbruikers van krag, naas groot aanlegte van onafhanklike kragverskaffers, kan bydra tot nuwe opwekkingsvermoë.

Op die staat moet egter nie gereken word nie, soos De Ruyter in werklikheid aangedui het.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.