Die VF Plus veroordeel die terreur-aanval vandag by die Bondi-strand in Sydney, Australië, ten sterkste.
Die aanval kort voor Kersfees was nie net ‘n aanslag op die Joodse gemeenskap nie, maar ‘n aanval op ‘n wêreldwye waardestelsel gegrond op vryheid, demokrasie en menseregte wat ‘n bedreiging vir radikale Islam wêreldwyd inhou.
Elf mense, waaronder ‘n aanvaller, is in die aanval dood en verskeie ernstig beseer. Luidens mediaberigte was die aanval gemik op Jode wat hul heilige Hanukkah of Ligtefees gevier het.
Die fees is ‘n Joodse viering wat oor agt dae strek ter herdenking van die hertoewyding van die Tempel, of die behoud van die Jode se geloof en kultuur.
Die VF Plus is bekommerd oor die groeiende invloed van radikale elemente wêreldwyd wat hul eie waardes en geloof op ander wil afdwing en – soos hierdie aanval getuig – nie huiwer om geweld te gebruik om ‘n klimaat van vrees te skep nie.
In Suid-Afrika is dit opvallend en kommerwekkend dat die ANC se noue bande met Palestina en Iran ook ‘n ongemaklike wrewel teen die Jode en Israel weerspieël.
Hierdie onversetlike optrede kan net daartoe bydra om Suid-Afrika se eie samelewing te polariseer en dit is totaal onnodig gegewe die interne ekonomiese oorlewingskrisis wat die land reeds ervaar.
Die VF Plus is opreg jammer vir die slagoffers van die aanval en hul naasbestaandes.
In hierdie Christelike feestyd van versoening en vrede doen die party ‘n beroep op vredeliewende mense van alle gelowe om te streef na ‘n samelewing wat inklusief, vreedsaam en gegrond is op gedeelde medemenslike waardes.
Suid-Afrika sal met erns ‘n konstruktiewe gesprek moet voer oor hoe hy die bedreiging van ekstremisme kan teëstaan in die beskerming van die land se eie diversiteit en vryheid.


