Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Muur langs N2 in Kaapstad welkom, maar moet gepaard gaan met sigbare polisiëring

Die VF Plus verwelkom die Stad Kaapstad se plan om ’n muur langs die N2 op te rig as ’n veiligheidsmaatreël vir motoriste.

Dit is nogtans jammer dat daar so lank voete gesleep is met daadwerklike optrede. Die probleem bestaan al jare lank en die VF Plus het vanjaar herhaaldelik aangedring op optrede.

Die muur is steeds nie ’n volhoubare langtermyn oplossing nie en misdadigers sal gou maniere vind om dit te omseil. Dit wys darem oplaas dat die stad gehoor gee aan oproepe om op te tree.

Die enigste doeltreffende manier om die N2 doeltreffend te beveilig, is deur volgehoue en sigbare polisiëring en ander hulpmiddele soos kameras.

’n Muur kan help, maar sonder ’n sterk teenwoordigheid van wetstoepassers bly motoriste kwesbaar.

Die VF Plus dring daarop aan dat die Stad, saam met Sanral en die nasionale regering, onmiddellik praktiese stappe prioritiseer.

Dit sluit in die herstel van beskadigde heinings langs die snelweg en die heraktivering van alle foutiewe CCTV kameras, die permanente stasionering van gewapende patrollies by die ses voetgangerbrûe wat as hoë risiko geïdentifiseer is, die vestiging van jeugopleidingsprogramme in Philippi, Nyanga en Crossroads om die oorsake van misdaad aan te spreek, asook die integrasie van intydse voorvalverslaggewing tussen die Kaapstadse metropolisie, Sanral en die publiek deur die i TRAFFIC toepassing.

Dit sal ook onregverdig wees as die Stad die koste van die muur alleen moet dra.

Sanral, wat die grootste deel van die begroting ontvang om nasionale paaie te beveilig, moet óf die volle koste dra óf ’n beduidende bydrae maak.

Die VF Plus veroordeel ook die jongste aanval op die N2 naby die Borcherds Quarry afrit, waar ’n moeder en haar 11 jarige seun Saterdagmiddag geteiken is.

Hierdie voorval, wat deur ’n motoris op sosiale media beskryf is en later deur die familie aan die VF Plus bevestig is, onderstreep die erns van die situasie.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen dat belastingbetalers se geld verantwoordelik aangewend word en dat misdaad op die N2 daadwerklik en volhoubaar aangespreek word – nie net met beton nie, maar ook met stewels op die grond.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.