Die besoek van die MK-party Maandag aan Kleinfontein, het opnuut die soeklig op die bestaan van kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika geplaas.
Die parlementêre hoofsweep, Mzwanele Manyi, het die afvaardiging gelei.
Dit het ongelukkig ʼn rassekleur gekry deurdat hy die gemeenskappe van Kleinfontein en Orania van rassisme en apartheid beskuldig het.
Die bestaan van verskeie kultuurgemeenskappe in ʼn diverse Suid-Afrika is ʼn gegewe en behoort erken te word in die gees van die land se slagspreuk !ke e: /xarra //ke (diverse mense verenig).
Die erkenning van kulturele diversiteit kan juis lei tot eenheid binne diversiteit en nasionale trots.
Kultuurgemeenskappe waaronder Kleinfontein, Orania, die Zoeloe-kultuurgemeenskap, waar 2,8 miljoen hektaar in KwaZulu-Natal deur die Ingonyama Trustwet gereguleer word en talle ander, weerspieël die werklikheid van Suid-Afrika.
Die formalisering-en reguleringsproses van Kleinfontein om aan wetsvereistes binne die jurisdiksiegebied van die Tshwane-metro te voldoen, moet egter billik en realisties wees.
Die feit dat daar meer as 600 onwettige informele nedersettings binne die Tshwane-metro se jurisdiksiegebied bestaan en verdra word sonder enige omgewingsimpakstudies of grondgebruik-registrasies, onredelike belastingverhogings en boetes, maak dit wat aan Kleinfontein opgelê word, onbillik.
Tshwane lewer geen diens aan die Kleinfontein-gemeenskap nie omdat die gemeenskap sy eie water, paaie en watersuiweringstelsel geïnstalleer het en in stand hou. Kleinfontein koop sy krag direk aan van Eskom.
Die VF Plus was Maandag deurgaans in kontak met die leierskap van Kleinfontein en sal daarin volhard om homself op die hoogste vlak te beywer vir die erkenning van selfrespekterende gemeenskappe, subsidiariteit in Suid-Afrika en die volhoubare vestiging van selfbestuur op grondvlak.