fbpx
Vryheidsfront Plus

Besoek aan onrusgeteisterde gebiede wys op onvermoë van ANC om te regeer

(Debat in parlement oor onlangse onrus: Oorsigbesoek van landbou-komitee)

Oorsigbesoeke van parlementêre portefeuljekomitees aan die gebiede wat verlede maand onder onrus en geweld deurgeloop het, het opnuut die ANC se totale onvermoë om te regeer onderstreep.

‘n Realiteit wat duidelik daaruit blyk is dat gewone Suid-Afrikaners nie die luuksheid het om soos ministers, LUR’e en ander hooggeplaastes in die regering, in veilige huise agter die beskerming van gewapende wagte te kan skuil teen misdadigers en plunderaars nie.

Dit het ook duidelik geblyk dat, selfs ‘n maand na die onrus en nieteenstaande ‘n verklaarde ramptoestand in die gebied, die nodige hulp en verligting nie by die mense uitkom wat daardeur geraak is nie.

Dit is veral van toepassing op die landbou-omgewing wat lank reeds geteister word deur bek-en-klouseer te midde van ‘n pandemie, inperkings en gewelddadige opstande.

‘n Persoon wat ‘n slaghuis besit in die gebied wat deur bek-en-klouseer geraak word en wat opkomende boere ondersteun, het onlangs aan die VF Plus vertel van sy sukkelstryd om ‘n onderneming onder hierdie uitdagende omstandighede te bedryf.

Elke dier wat hy slag, moet vir dié siekte getoets word. Omdat staatsveeartse nie geredelik beskikbaar is nie, moet die toetse meestal privaat teen sowat R1000 per toets gedoen word. Onnodige onkoste soos hierdie word eindelik van die klante verhaal wat lei tot ‘n dalende omset en onvermydelik tot afleggings wat allermins in die huidige ekonomiese omstandighede bekostig kan word.

Dit is ‘n enkele voorbeeld hoe die publiek gestraf word vir die onvermoë en mislukkings van ‘n onbevoegde regering wat toelaat dat die siklus van agteruitgang al hoe groter raak.

In hierdie uiters moeilike omstandighede het die publiek boonop te kampe met die verwoestende gevolge van onluste wat voorkom kon word. Gesaaides is verbrand, ‘n hawe en produsentemarkte geplunder en gesluit. Die slagoffers is die gewone publiek wat uitgelewer is aan ‘n onbevoegde regering.

Die waarheid is dat die regering nie werklik die erns van voedselsekerheid in die land begryp nie, of nie die groter prentjie insien waar dit eindelik gaan oor kos op die tafel van elke gewone huisgesin in die land nie.

Die ramp by United Phosphorous Limited in Cornubia, noord van Durban, word beskou as een van die grootste chemiese rampe nóg in Suid-Afrika en het wydverspreide besoedeling tot gevolg gehad. Tog blyk dit dat die regering meer besorgd is oor sy Brics-vennote as oor die mense en omgewing van Suid-Afrika.

Die ironie is dat die probleme in KwaZulu-Natal (van die onrus tot die bek-en-klouseer) soos elders in die land, deur beplanning en pro-aktiewe optrede voorkom kon word.

Die ongelukkige realiteit is dat die ANC steeds regeer, en dit is tyd dat hy iets doen aan die probleme in Suid-Afrika.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.