Belastingverligting sal veel eerder ekonomiese groei stimuleer as hoër belasting aangesien dit ‘n bewese feit is dat ekonomiese groei net plaasvind indien ‘n staat ophou om in die vrye mark in te meng, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.
Hy sê die hele kwessie van belasting moet in sy geheel gesien word teen die land se ekonomiese stand en ekonomiese mikpunte. Dit is veral die ekonomiese middelklas aan wie verligting gebied moet word en nie net aan werknemers in spesiale ekonomiese sones nie.
Die wet oor die spesiale sones is nog nie gefinaliseer nie en dit sal boonop lank duur voordat die uitwerking van belastingverligting op dié vlak gesien sal word,” sê adv. Alberts.
“Die realiteit is dat Suid-Afrika tans onmiddellike belastingverligting nodig het. Daar is geweldige finansiële druk op die middelklas terwyl daar oral nuwe belastings opduik.
“Tans hou ‘n klein minderheid belastingbetalers die land aan die gang en dit kom al hoe meer voor asof die ANC-regering geen respek vir hulle het nie. In plaas daarvan dat hulle gekoester word, word net al hoe meer belastings ingestel wat verarming tot gevolg het.
“Voorbeelde is die e-tolstelsels wat in Gauteng ingestel gaan word en die talle wat daarna landwyd gaan volg. Baie pensioenarisse moet hulle eiendomme verkoop omdat hulle nie meer die eiendomsbelasting kan bekostig nie.
“Dit is deur rasse-ideologiese verknegtheid wat gestalte gee aan perverse beleide soos regstellende aksie wat kaderontplooiing moontlik maak en meriete ignoreer, asook swart ekonomiese bemagtiging, waarvan geen bewyse bestaan dat dit wel werk nie, wat die ekonomie teruggehou word en almal uiteindelik benadeel.
“Hierdie beoogde wet is ‘n stap in die regte rigting, maar daar is in die proses te veel stappe in die verkeerde rigting wat al die positiewe gevolge wat uit die wet kon voortvloei, uitskakel, sê adv. Alberts.
Kontaknommer: 082 391 3117