Die huidige bek-en-klouseerkrisis wat nou ook na die Wes-Kaap oorspoel, vereis ’n nugtere, gekoördineerde en praktiese reaksie wat dieregesondheid, boerdery volhoubaarheid en nasionale voedselsekuriteit in balans hou.
Die VF Plus in die Wes-Kaap het met goedkeuring kennis geneem van die R100 miljoen wat die provinsiale regering bewillig het vir die aankoop van entstowwe. Hoewel daar onsekerheid bestaan oor die tydigheid en toereikendheid van hierdie fondse, is dit ’n belangrike eerste stap wat nou doeltreffend aangewend moet word.
Die VF Plus versoek die owerheid in die Wes-Kaap om saam met die privaat sektor self entstowwe te bekom omdat daar tans nie bewyse is van enige wetgewing wat dit verbied nie.
Verder is dit noodsaaklik dat die Wes-Kaap dringend sy eie Sanas-geakkrediteerde provinsiale laboratorium vestig om monsters, insluitend bloedmonsters, plaaslik te toets.
Hierdie kapasiteit moes reeds lankal in plek gewees het en is ’n kritieke vereiste vir vinnige, akkurate en onafhanklike besluitneming.
Daar moet ook regoor die provinsie aandag gegee word aan die beskikbaarheid van abattoirs waar diere wat blootgestel was, geslag kan word. Dit is onvermydelik dat bestaande abattoir-regulasies hersien en nou reeds op die agenda geplaas moet word.
Die VF Plus waarsku dat daar gewaak moet word teen drakoniese bewegingsbeheermaatreëls as die enigste bekampingsmeganisme. Voedselsekuriteit is onlosmaaklik verbind aan die vermoë om diere na abattoirs te vervoer.
’n Algehele vervoerverbod sal ernstige en onbedoelde gevolge hê. Praktiese uitsonderings vir slagdoeleindes moet deel vorm van beheermaatreëls soos bewegingsbeperkings, ontsmetting en toegangsbeheer.
Die huidige verwarring rondom bewegingspermitte beklemtoon verder die dringende behoefte aan ’n eenvormige nasionale beleid.
Verskillende reëls tussen provinsies skep verwarring, ondermyn wetstoepassing en sal die probleme wat reeds in ander dele van die land ervaar is, in die Wes-Kaap herhaal.
Die provinsie moenie die fout maak om die gevalle in Mosselbaai en Wellington as geïsoleerd te beskou nie. Elders in die land het soortgelyke situasies klein begin en vinnig uitgebrei.
Dit is bemoedigend dat die veterinêre dienste in die provinsie die erns van die situasie erken en vinnig optree.
Volgehoue, konstruktiewe druk en ondersteuning van alle rolspelers is egter noodsaaklik om te verseker dat die provinsie proaktief, voorbereid en doeltreffend bly.


