(Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor landbou, gee ‘n oorsig oor faktore wat bek-en-klouseer tot die huidige krisis laat ontwikkel het)
Indien enigiets die staat se ontoereikende reaksie op die bek- en klouseerkrisis met ‘n dik lyn onderstreep, is dit die afgelope week se trotse aankondiging dat die Landbounavorsingsraad (LNR) 12 900 dosisse entstof kon beskikbaar stel.
Dit was eers anders. Tot in 2010 was dit vanselfsprekend dat die land suksesvol op enige voorkoms van dié berugte siekte sou kon reageer.
Die LNR se Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut (OVI) het die nodige materiaal veilig opgeberg en die siekte voortdurend nagevors. ‘n Moontlike voorkoms van die siekte kon binne dae bevestig word en optrede kon onmiddellik volg.
Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) sou dadelik aan grootskaalse vervaardiging van entstowwe voorkeur gee. Wetstoepassingsagentskappe sou die samewerking van landelike gemeenskappe kry sodat geen dier uit gebiede wat geraak is, kon beweeg nie.
Hierdie hele stelsel het in duie gestort, soos bankrotskap: Eers geleidelik en toe skielik.
Bewegingsbeheer was die eerste slagoffer van die post-1994 bedeling. Die kommando’s, wat plattelandse veiligheid in stand gehou het, is eerste afgeskaf. Toenemende misdaad was die eerste gevolg. Onvermoë om kwarantynbepalings af te dwing, sou later sigbaar word.
Onderstepoort was deurentyd die hartklop van Suid-Afrika se dieregesondheid. Dit het begin in 1896 met die vernietigende Runderpes, wat byna die Suid-Afrikaanse beeskudde uitgewis het.
Pres. Paul Kruger het daarop gereageer deur die skrander Switserse immigrant, dr. Arnold Theiller, as staatsveearts aan te stel. Hy het ‘n laboratorium en klein personeel gekry om sy taak uit te voer, aanvanklik by Daspoort.
In 1908 het die geriewe na Onderstepoort verskuif, sowat 10 km noord van Kerkplein. Opleiding van veeartse, in samewerking met die Universiteit van Pretoria (UP), was deel van die opdrag.
Theiller en sy personeel, asook hul opvolgers, het wondere verrig om tropiese siektes in Afrika te identifiseer, te ondersoek en te bestry. Danksy hul werk word veeteelt in Suid-Afrika en regoor Afrika minder wisselvallig.
Dit het die deur geopen vir uitvoere, aangesien internasionale verbruikers op die veiligheid van diere en diereprodukte kon reken.
In die 1970’s is navorsing en opleiding formeel van mekaar geskei, hoewel noue samewerking steeds aan die orde van die dag was. ‘n Fakulteit Veeartsenykunde is ook by Medunsa, nie ver daar daarvandaan nie, gevestig om swart veeartse op te lei.
Die gevolg was dat aansteeklike veesiektes teen die jare 1980 grootliks in bedwang gebring is. Tradisionele gebiede waar vee op gemeenskaplike grond en in gemeenskaplike troppe bestuur is, is deur die fyner veeartseny-vangnet opgevang.
Ná 1994 word die demografiese oorwegings in die staat se veeartsenykundige dienste al hoe belangriker en UP en Medunsa se fakulteite smelt saam.
In 2020 verwys prof. Gerry Swan, ‘n latere dekaan van die nuwe fakulteit, na dié jarelange proses as stormagtig (“tumultuous”).
Terwyl geriewe wat veeteelt teen potensieel vernietigende siektes moet beskerm, verouder, val die klem eerder op “transformasie” en institusionele verandering.
OBP word in 1999 ‘n onderneming in staatsbesit om dit van navorsingswerk in die LNR te skei. Die veronderstelling dat dit doeltreffendheid sal verhoog, realiseer nie. Reeds teen 2011 verloor Suid-Afrika die vermoë om verskeie entstowwe, ook teen bek-en-klouseer, te vervaardig.
Soos gewoonlik tydens die vroegste fases van ‘n ontluikende krisis, was daar mense wat dit sien aankom het. Sowat R500 miljoen is in 2010 bewillig om geriewe op standaard met internasionale beste praktyke te bring.
Duur toerusting hiervoor is van die buiteland aangekoop, maar dit blyk toe dat die geoormerkte gebou nie aan vereistes voldoen nie. Die toerusting eindig op in gange en stoorkamers van ander geboue. Wat hiervan geword het en of dit nog diensbaar is, is onseker. OVI het darem nog die vermoë om ‘n klein aantal entstowwe op te berg en klein uitbrekings te bestuur.
Ministeriële taakspanne het in 2016, 2019 en, belangrik, in 2024, gewaarsku oor ‘n naderende bek-en-klouseerkrisis wat die staat nié sal kan beheer nie.
Die beginsel van ‘n staatsbeheerde siekte is immers dat die staat, en slegs die staat, oor die fisieke -, finansiële -, logistieke – en finansiële hulpbronne beskik om dit doeltreffend die hoof te bied.
Die boodskap van die taakspanne was duidelik: Die staat het nie meer oor die hulpbronne beskik nie en moes dringend optree om dit weer te verkry. Dit het nie gebeur nie.
In April 2025 was bek-en-klouseer al ‘n ernstige probleem in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.
Die VF Plus het in April 2025 in ‘n parlementêre vraag aan die minister van wetenskap, innovasie en tegnologie, dr. Blade Nzimande, gevra oor die omvang van die krisis en daardie departement se vermoë om landbou by te staan.
Die antwoord was dat die geskatte beeskudde op 14 miljoen staan en dat 12 miljoen beeste geënt sal moet word om kudde-immuniteit te bereik. ‘n Aanvanklike ent en twee opvolgentings sou R3 miljard kos.
Die minister het laat blyk dat Suid-Afrika nie oor die fondse beskik nie. Om die krisis die hoof te bied, sou die siekte daarom doeltreffend bestry moes word voordat algemene inenting noodsaaklik sou raak. Ook dat herstelde Suid-Afrikaanse vervaardigingsvermoë die koste per dosis tot sowat 10% van die ingevoerde middel sou sny.
Die antwoord van die minister van landbou, mnr. John Steenhuisen, ook in April 2025, het geen teken van dringendheid getoon, of selfs dat hy die omvang van die naderende krisis begryp nie.
In ‘n parlementsdebat in Mei 2025 oor die landboudepartement se begroting, noem die VF Plus bek-en-klouseer ‘n ramp wat “eenhonderd persent voorkombaar was”.
Die probleem word deur mense veroorsaak. Die virus sal altyd met ons wees, maar dit is mense wat dit moet bestuur.
Die ANC se rasseteikens op elke lewensterrein het beteken dat bevoegdheid om hierdie soort vraagstuk te hanteer, nie meer die deurslaggewende faktor was met die aanstelling van senior personeel nie.
Die probleem hier is nie dat die senior personeel swart is nie. Die probleem is dat die klem op die verkeerde plek was. Terwyl bek- en klouseer begin om verwoesting te saai, fokus die departement eerder op transformasieteikens.
Die jubelende aankondiging daarom dat die LNR verlede week 12 900 dosisse entstof kon vervaardig, is onvanpas. Die aanspraak dat dit die gevolg van 21 jaar se navorsing is, verswyg die waarheid dat die vermoë om entstowwe te vervaardig, 16 jaar gelede nog bestaan het.
Die huidige minister, John Steenhuisen, kon eerder die skuld op dertig jaar se onbekwame regering gepak het indien hy onmiddellik en beslissend opgetree het. Eindelik spog hy dat 12 900 dosisse drie maande voor skedule beskikbaar is.
Daar is geen aanduiding dat die minister in die bykans twee jaar wat hy minister is, teen onbevoegde personeel wat vir die krisis verantwoordelik is, opgetree het nie.
Geen spesiale befondsing is verkry nie, geen projekte is as noodmaatreël versnel nie, geen ander departement of staatsinstelling (soos die WNNR) is op noodgrondslag ingeroep om te help nie.
Die uiteinde is minder as veertien duisend ente vir ‘n nasionale kudde van veertien miljoen – en dit word triomfantelik aangekondig! Dit spreek van ‘n grondige onbegrip.


