Terwyl die ekonomie afskaal en Suid-Afrikaners daarna uitsien om die feestyd saam met familie deur te bring, staar ‘n donker feestyd veeboere in die gesig omdat bek-en-klouseer grootskaalse finansiële skade veroorsaak.
Die departement van landbou sleep voete met wetstoepassing, terwyl al hoe meer boere sukkel om kop bo water te hou.
Diere wat met hierdie siekte besmet is, mag net by ‘n paar aangewese abattoirs geslag word, terwyl die kuddes in ‘n 10 km-radius rondom die besmetting, onder kwarantyn geplaas word. Dit sny die betrokke boere se inkomstebron af en skep ernstige finansiële probleme.
Beesboerdery is regoor die land versprei. Afronding vind egter hoofsaaklik by groot voerkrale plaas, wat binne redelike bereik van stedelike gebiede is. Dit beteken dat beeste oor groot afstande vervoer word, wat die verspreiding van ‘n aansteeklike siekte bemiddel.
Inperking van kuddes waar die siekte voorkom, is dus belangrik in die bestryding daarvan.
Die werklikheid is egter dat hierdie inperkings deur wetsgehoorsame, kommersiële boere eerbiedig word, terwyl daar bykans geen wetstoepassing is om onwettige vervoer te voorkom nie. Tydens só ‘n krisis behoort padversperrings minstens by provinsiale grense te verseker dat beeste nie vanuit beperkte gebiede vervoer word nie.
Sulke maatreëls is egter afwesig, met geen vooruitsig van die departement landbou om dit te versoek- of toe te pas nie.
Dié departement se verantwoordelikheid is om te verseker dat veeboere vinnig kan vasstel of siek diere inderdaad bek-en-klouseer het en dat dié wat wil ent, dit kan doen. Tans is die wagtyd vir toetsuitslae egter twee weke of langer. Teen daardie tyd is die betrokke diere reeds weer gesond.
Omliggende kuddes wat met ‘n positiewe uitslag ingeperk sal word, kan tydens die wagtyd wettig vervoer word. Só kan die siekte verder versprei.
Dit is die staat se plig om te sorg dat alle boere wat wil ent, dit kan doen. Onderstepoort Biologiese Produkte, die staatsinstelling wat oor dekades voldoende entstowwe vervaardig het, kan dit weens swak bestuur nie meer doen nie.
‘n Oplossing is die lisensiëring van bestaande biologiese aanlegte in private besit, maar dit gebeur nie.
Die departement van landbou se beleid is tans om die totale Suid-Afrikaanse beeskudde te ent. Daar is egter ernstige vrae oor die uitvoerbaarheid daarvan. Volgens ‘n berekening van die departement van wetenskap, tegnologie en innovasie vroeër vanjaar, sal dit sowat R5,4 miljard kos om die nasionale kudde te ent. Die opspoorbaarheid van beeste in gemeenskaplike en munisipale meentgronde skep ‘n bykomende praktiese probleem.
Die VF Plus dring daarop aan dat bestaande regulasies dringend toegepas word, met die klem op naspeurbaarheid van vervoerde diere, sowel as ‘n vinnige beskikbaarheid van toetsuitslae en entstowwe. Dit is binne bereik van ‘n staat wat ten minste probeer.


