Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gauteng se toekoms in die weegskaal: Landbou- en omgewingskrisis vereis onmiddellike ingryping

(Debat in Gautengse wetgewer oor jaarverslag van die departement van landbou)

Gauteng se ekonomiese toekoms sal in ‘n krisis beland indien die provinsie nie dringend en daadwerklik optree oor die groeiende landbou- en omgewingskrisis nie.

Die jongste jaarverslae van die departemente van omgewingsake en landbou en landelike ontwikkeling bevestig die omvang van die bedreiging.

Met meer as 16 miljoen inwoners in ’n hoogs verstedelikte provinsie, is voedselsekerheid ’n noodsaaklikheid.

Landbou bly ’n hoeksteen van ekonomiese ontwikkeling. Gauteng moet stedelike boerdery, kommersiële produsente en moderne landbou-tegnologie versterk om stygende voedselpryse en kwesbare waardekettings die hoof te bied.

Terwyl Gauteng een van die mees besoedelde provinsies in die land is, word die omgewingsportefeulje steeds gemarginaliseer.

Onbeheerste rommelstrooiing, giftige lugbesoedeling en munisipaliteite en nywerhede se besoedeling van skaars waterbronne bedreig openbare gesondheid en ondermyn ekonomiese groei en beleggersvertroue.

Die krisis word vererger deurdat water ’n nasionale verantwoordelikheid is.

Die nasionale regering ignoreer Gauteng se herhaalde noodkrete en laat die provinsie sonder die nodige ondersteuning. Hierdie versuim belemmer die provinsiale regering se vermoë om sy mandaat uit te voer en sy inwoners te beskerm.

Die VF Plus stel voor dat Gauteng ’n provinsiale landbou-innovasieprogram loods, uitbreidingsdienste herstel en die volle potensiaal van agro-verwerking ontsluit om werksgeleenthede te skep.

Aan die omgewingskant is dit noodsaaklik dat strenger wetstoepassing ingestel word, dat gemeenskapsgegronde rivier-rehabilitasie bevorder word en dat werklike samewerking tussen die provinsiale en nasionale regering verseker word om Gauteng se watersekerheid te herstel.

Gauteng kan nie die ekonomiese hartland van Suid-Afrika bly as sy mense nie skoon lug kan asemhaal, veilige water kan gebruik en bekostigbare voedsel kan bekom nie.

Die tyd vir middelmatigheid is verby. Die provinsie benodig onmiddellike en daadwerklike optrede.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.