Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Minister bevestig dat lugmagoffisier wat in 2018 afgedank is weens haatspraak, ‘n jaar later weer aangestel is

Die VF Plus het deur ‘n vraag aan die minister van verdediging en militêre veterane, Angie Motshekga, vasgestel dat ‘n lugmag-majoor wat in 2018 afgedank is weens erge haatspraak, skaars ‘n jaar later heraangestel is.

Maj. M. V. (Vincent) Mohlala, wat gestasioneer was by die Wonderboom-militêre basis in Pretoria, het in 2018 ná die moord op emeritusprofessor Cobus Naudé (76) onder meer op sosiale media gesê:

“Nou is dit wit mense se beurt. Hulle (die moordenaars) moes eintlik sy oë en tong uitgesteek het sodat die laaste mense wat hy kon sien, sy moordenaars was…”.

‘n Militêre ondersoek het Mohlala skuldig bevind en hy is op 18 Mei 2018 ontslaan uit die weermag (SANW).

Die VF Plus het onlangs inligting ontvang dat Mohlala intussen weer aangestel is en het min. Motshekga in ‘n parlementêre vraag om bevestiging gevra, asook oor die redes vir die heraanstelling.

Min. Motshekga het bevestig dat Mohlala op 14 Mei 2019 heraangestel is, skaars ‘n jaar na sy ontslag, maar het geen rede of agtergrond rondom die heraanstelling gegee soos versoek nie.

Daar is in 2018 ook eers teen Mohlala opgetree nadat die VF Plus met die weermag (SANW) se begrotingsdebat in die parlement sy misnoeë oor die aangeleentheid uitgespreek het.

In ‘n brief gedateer 17 Mei 2018 het die destydse hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, aan Mohlala gesê: (defenceWeb: Army major dismissed for hate speech on social media: 24 May 2018).

“Dit het onder my aandag gekom dat u woorde op sosiale media geuiter het wat ernstige rasse-aantygings bevat. Dit het vyandigheid en afkeer op grond van ras getoon.

“Hierdie gedrag is ‘n ernstige skending van militêre dissipline en die gedragskode vir lede van die SANW. Dit is verder strydig met die gedrag wat van ‘n senior offisier van die weermag verwag word.

“Die woorde wat u geuiter het, het die weermag in oneer gebring en daarom is u dienste met onmiddellike effek beëindig.”

Die VF Plus sal by die minister wil hoor of hierdie siening en uitsprake van genl. Shoke dan nie meer geldig is nie en sal aandring op antwoorde oor die redes vir die heraanstelling.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.