Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Beitbrug-grensdraadskandaal: VF Plus verwelkom Grondwethof-uitspraak

Die VF Plus verwelkom die Grondwethof se beslissing om te weier om appèlle van twee konstruksiemaatskappye aan te hoor teen ‘n uitspraak van die spesiale tribunaal rakende die Beitbrug-grensdraadskandaal.

Die tribunaal het in sy uitspraak bevind dat alle winste wat uit die aangeleentheid gemaak is, terugbetaal moet word.

Die Grondwethof het beslis dat die meriete van die appèl van Profteam cc en Caledon River Properties, handeldrywend as Magma Construction, nie sy jurisdiksie raak nie.

Die VF Plus het in 2020 die spesiale tribunaal se uitspraak verwelkom dat kontrakteurs miljoene betaal is selfs voordat enige werk aan die Beitbrug-grensdraad begin het.

Die eindproduk van hierdie kontrakteurs was die “wasgoedlyn” van 40km tussen Suid-Afrika en Zimbabwe.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het die twee maatskappye voor die hof gedaag in ‘n poging om R40 miljoen wat aan die heining bestee is, terug te kry.

Die grootste verloorders in die skandaal was die belastingbetaler en die staat. Die VF Plus het die destydse minister, Patricia de Lille, verskeie keer sedert 2020 hieroor in die parlement uitgevra. Die party het ook aangedui dat sy geen beheer oor die projek gehad het nie en dat sy die Covid-19-Rampbestuurswet misbruik het om die draad te laat oprig en dat sy verantwoordelikheid daarvoor moes aanvaar.

Sy het die projek laat voortgaan sonder dat die nodige verkrygingsprosedures gevolg is.

Die VF Plus spreek die hoop uit dat pogings steeds aangewend sal word om alle verlore fondse van die belastingbetaler en die staat te verhaal.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.