Die onlangse gewapende kaping van ’n munisipale bakkie het opnuut die kollig laat val op die tempo waarteen Emalahleni se bates verdwyn.
Vir die VF Plus is hierdie voorval nie ’n geïsoleerde misdaad nie, maar die jongste bewys van ’n totale ineenstorting in die beveiliging van openbare eiendom.
Die party het ’n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder, mnr. Humphrey Sizwe Mayisela, waarin onmiddellike verantwoording geëis word vir die voortslepende verlies van voertuie en toerusting wat die munisipaliteit reeds miljoene rande gekos het.
Die kaping van die bakkie volg op ’n reeks ontstellende voorvalle waarby kritieke bates soos ’n vulliskompakteerder, ’n Bell-skraper en verskeie ander voertuie gesteel is of verlore gegaan het.
Dit is onaanvaarbaar dat swaar toerusting en amptelike voertuie gereeld uit die munisipaliteit se besit verdwyn sonder dat die publiek antwoorde kry.
Hierdie herhaalde voorvalle saboteer dienslewering direk. Elke voertuig wat gesteel word, veroorsaak dat instandhoudingspanne nie by kragonderbrekings of waterlekkasies kan uitkom nie, dat vullisverwydering agterweë bly weens ’n gebrek aan kompakteerders en dat inwoners die prys betaal vir ’n munisipaliteit wat nie sy eie gereedskap kan oppas nie.
Die VF Plus is bewus daarvan dat ’n privaat ondersoeker aangestel is om moontlike sekuriteitsbreuke en interne betrokkenheid by die depots te ondersoek. Die bevindings van hierdie ondersoek word streng geheim gehou. Die stilte van die administrasie hieroor is kommerwekkend en onaanvaarbaar.
Die VF Plus eis deursigtigheid oor watter interne sekuriteitskontroles gefaal het om hierdie reeks diefstalle te voorkom, of die ondersoek enige amptenare by hierdie misdade betrek het en watter strafregtelike of dissiplinêre stappe geneem is om die sogenaamde “batesindikaat” te stop.
Terwyl voertuie verdwyn, word die reeds oorbelaste belastingbetalers van Emalahleni (Kriel, Ogies, Phola en eMalahleni) gedwing om die rekening vir vervanging en hoë versekeringspremies te betaal. Dit kan nie so voortgaan nie.
Die VF Plus sal voortgaan om druk uit te oefen vir die onmiddellike instelling van strenger toegangsbeheer by alle depots en die installering van gevorderde opsporingstegnologie in elke munisipale bate.
Daar moet harde gevolge wees vir nalatige amptenare wat toelaat dat munisipale eiendom so verdwyn.


