Die VF Plus het oor jare heen die ANC-administrasie van Johannesburg gewaarsku dat buitensporige salarisonderhandelinge en ’n kultuur van wanbetaling die stad op ’n trajek na bankrotskap plaas.
Hierdie waarskuwings is telkens geïgnoreer en die gevolge is nou sigbaar.
Die omstrede salarisverhoging van R10,3 miljard wat verlede jaar aan werkers aangebied is om arbeidsoptrede voor die G20 beraad te voorkom, was ’n keerpunt. Die VF Plus het destyds gewaarsku dat so ’n besluit nie net die stad se korttermyn-likiditeit sou ondermyn nie, maar ook sy langtermyn-volhoubaarheid.
Johannesburg se skuldlas bevestig dit. Uitstaande munisipale skuld beloop tans R70 miljard, waarvan die grootste deel uit Soweto kom. Terwyl die invorderingskoers in die voorstede bo 88% is, bly Soweto se koers op net 40% tot 50% – ’n kultuur van wanbetaling wat die ANC oor jare toegelaat het om te gedy.
Daarby skuld die Gautengse provinsiale regering nog sowat R1,4 miljard aan die stad.
Die VF Plus het ook gewaarsku dat die stad se finansiële geloofwaardigheid in gedrang sou kom. Hierdie waarskuwing is bewaarheid toe Moody’s ’n afgradering van Johannesburg se kredietwaardigheid oorweeg het en die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) die verhandeling van die stad se effekte opgeskort het. Dit volg op die stad se versuim om sy geouditeerde finansiële state betyds in te dien.
Selfs die minister van finansies, Enoch Godongwana, moes nou intree om die ANC administrasie se wanbestuur en onbehoorlike salarisonderhandelinge te probeer stuit.
Die voorgestelde salarisverhogings sal deel uitmaak van die begrotingsdebat aan die einde van Mei.
Die VF Plus sal nie ‘n begroting steun waar die belastingbetalers van die stad die juk van swak finansiële bestuur en -besluite moet dra nie.
Kiesers moet registreer en op 4 November vir die VF Plus stem om ʼn eerlike en deursigtige regering in Johannesburg in beheer te plaas.


