Die minister van finansies, Enoch Godongwana, sal met sy begrotingsrede gestalte moet gee aan pres. Cyril Ramaphosa se uitlatings oor die belangrikheid van die privaatsektor om die ekonomie te laat groei en werk te skep.
Die minister sal daarom maatreëls moet aankondig om omstandighede te skep wat ’n gunstige omgewing vir die privaatsektor daarstel, insluitende belastingtoegewings.
Belasting- of heffingsverhogings sal enige poging om ’n gunstige ekonomiese omgewing te skep, ongedaan maak. Dit sal eerder lei tot groter werkloosheid.
Suid-Afrika is in ’n ekonomiese en finansiële krisis met werkloosheid wat op 46,4% staan. Staatskuld is buite beheer en beloop tans meer as R4 biljoen. Die finansieringskoste hierop gaan vanjaar die land se grootste uitgawe wees.
Om bloot die korttermyn-inkomstevlakke van die staat te probeer verhoog deur belastingverhogings, sal negatiewe langtermyn-gevolge inhou. Belastingtoegewings sou veel eerder as stimulus vir groei en beleggings dien.
Die minister het geen keuse as om hom uit te spreek teen die groeiende salarisrekening van die staat nie.
Hy sal moet verduidelik waarom hy ’n verhoging goedgekeur het vir senior regeringsamptenare wat reeds buitensporige salarisse verdien terwyl daar jaarliks in die begrotingsrede beloftes tot die teendeel gedoen word. Verdere leë woorde hieroor sal nie deug nie.
Die VF Plus sal geen verdere verhoging in brandstofheffings wil sien nie, veral nie wat die padongeluksfonds aanbetref nie. Dié fonds is wanfunksioneel en bankrot.
Derdeparty-versekering moet eerder verpligtend gemaak word vir alle motoreienaars en die padongeluksfonds moet afgeskaf word.
Verdere daadwerklike hervorminge om die ekonomie te stimuleer, moet die land se energiekrisis en veranderings by staatsondernemings insluit.
Reddingsboeie kan nie meer bekostig word nie en uitgawes op luukshede, asook vermorsing deur vrugtelose en verkwiste uitgawes, moet in bedwang gebring word.
Die tyd vir praat is verby. Dit sal die land nie meer red nie. Hoe meer werkloosheid en armoede toeneem, hoe meer sal die ANC se steun by die stembus afneem.