fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus maak konkrete voorstelle om politieke stabiliteit en dienslewering in Noordwes te herstel

(Debat oor premier van Noordwes se provinsiale openingsrede-2022)

 

Die VF Plus het vandag in repliek op die provinsiale rede van die premier van Noordwes, Bushy Maape, konkrete voorstelle gemaak om politieke stabiliteit en basiese dienslewering in die provinsie te herstel.

Die party het ook uitgewys dat Noordwes steeds onder Artikel 100-administrasie is wat die provinsiale regering effektief verlam.

Die premier en sy provinsiale regering se magte is in terme van dié administrasie so ingeperk dat hulle bykans geen uitvoerende bevoegdhede het nie.

Regeringsbesluite moet alles deur die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) goedgekeur word. Die Artikel 100-administrasie behoort opgehef te word omdat dit na jare steeds geen resultate opgelewer het nie en eerder verantwoordbare regering in die provinsie ondermyn.

Die VF Plus het verder uitgewys dat munisipaliteite soos Ditsabotla (Lichtenburg, Coligny en Bakerville), Mamusa (Schweizer-Reneke en Amalia) en Maquassie Hills (Wolmaransstad, Makwassie, Leeudoringstad en Witpoort) steeds gekenmerk word deur politieke onstabiliteit wat lei tot chaos in die munisipaliteite.

In Maquassie Hills is daar tans byvoorbeeld twee munisipale bestuurders wat deur verskillende ANC-faksies aangestel is. Só ook in Mamusa met twee munisipale bestuurders en twee hoof-finansiële beamptes. Die gevolg van hierdie chaotiese toestand is dat dienslewering in duie gestort het wat ook tot maatskaplike onrus lei.

Die VF Plus se voorstelle vir politieke stabiliteit en effektiewe dienslewering sluit onder meer in:

• Die ANC behoort eerstens verantwoordelikheid vir die optrede van sy ontplooide kaders te aanvaar en te verseker dat die party se binnegevegte Noordwes nie verder ontwrig nie.

Hierdie voortslepende ANC-binnegevegte lei verder tot ‘n vermorsing van skaars hulpbronne met die provinsiale regering wat gedurig teen groot onkoste by sulke munisipaliteite moet ingryp om basiese dienste aan die gang te hou.

• Die provinsiale regering behoort tweedens die beskerming van infrastruktuur te prioritiseer. Provinsiale en plaaslike infrastruktuur soos kragkabels en krag-substasies word deurlopend deur misdadigers gestroop en gevandaliseer. Dit is noodsaaklik dat die owerhede en alle belanghebbendes hierdie euwel dringend bestry deur gekoördineerde optrede.

• Derdens moet verantwoordbare regering op plaaslike regeringsvlak herstel word deur die desentralisering van magte na dorpe in die provinsie. Om munisipaliteite gereeld onder Artikel 139-administrasie te plaas, het tot dusver geen positiewe resultaat opgelewer nie en skynbaar bloot nuwe korrupsie-kanale geskep.

Die jaarlikse ouditverslae van die ouditeur-generaal (OG) wys klokslag die gebrek aan behoorlike rekordhouding en gevolglike korrupsie en wanadministrasie by munisipaliteite in Noordwes uit. Dit is noodsaaklik dat ingegryp word om te verseker dat munisipaliteite in behoorlike boekhou-sagteware, kontrolestelsels en bekwame amptenare belê.

Die oplossings vir die kernprobleme in Noordwes is eenvoudig en voor die hand liggend. Dit blyk egter dat die politieke wil by die ANC-regering ontbreek om die belange van Noordwes en sy inwoners eerste te stel.

Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas en regeringsgebreke uit te wys en te bestry tot voordeel van die provinsie en sy inwoners.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.