Propaganda en mites oor landbou sal voedelsekerheid in Suid-Afrika vernietig en die land op die Zimbabwe-pad plaas. Besluite oor landbou moet gegrond wees op feite, en nie op politieke propaganda en mites nie.
Suid-Afrika het suksesvolle kommersiële boere nodig, nie boere wat vir altyd opkomend gaan bly nie. Die meeste ontwikkelingsprogramme en projekte van die regering misluk. Dit strek hoofsaaklik tot voordeel van politiek-gekonnekteerde korruptes.
‘n Voorbeeld is die Vrede-suiwelprojek waar geld vir die projek eindelik in Sun City bestee is aan ‘n Gupta-troue. Die wyse waarop provinsiale departemente implementeringsagente kontrakteer, skep die ruimte vir hierdie soort bedrog. Wat in Vrede en in die Vrystaat gebeur het, gebeur landwyd.
Miljarde rande wat bestee moet word aan landbou-ontwikkeling in Suid-Afrika gaan sodoende verlore.
Altesame 62% van Suid-Afrikaners woon in stede. Hierdie mense wil hul eie huise hê en deel wees van ‘n moderne ekonomie. Hulle hunker nie terug na ‘n landelike leefwyse nie.
Suid-Afrika se voedselbehoeftes is van so ‘n aard dat net kommersiële boere daarin kan voorsien. Klein- en bestaansboere kan nie alleen voedselsekerheid verseker nie. Boere wat erns het oor landbou moet daarom gehelp en ontwikkel word.
Vir almal om weer terug te keer na bestaansboerdery sal letterlik beteken om agteruit te boer. Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie.
Wit en swart landbouers van Suid-Afrika werk onder moeilike omstandighede om werk te skep, kos vir die land te produseer en om landelike ekonomieë te onderhou. Nogtans word hulle beskuldig vir byna al die probleme in die land.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216