Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne word midde-in ‘n erge droogte daagliks skaarser en daar kan nie langer weggeskram word van die realiteit van klimaatsverandering nie.
Daarbenewens rig besoedeling reuse skade aan terwyl die departement van omgewingsake en sy Groen Skerpioene dit nie noemenswaardig bestry nie. Rou riool beland by vele munisipaliteite in damme en riviere. Skaars drinkwater word sodoende besoedel.
‘n Voorbeeld is by Delmas waar rou riool die Bronkhorstspruitdam besoedel weens infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie en in duie stort. Net so by die Wilgerivier wat in die Vaaldam uitloop. Miljoene mense in die grootste deel van Gauteng word so benadeel. Klagte wat by die departement en die Groen Skerpioene hieroor ingedien is, het geen resultaat opgelewer nie.
Mynbou en eksplorasiebedrywighede is ook kommerwekkend rakende die land se skaars hulpbronne. Daar was onlangse gevalle waar eksplorasieregte deur die departement toegeken is en waar howe dit later omgekeer het.
Dit is ‘n vermorsing van geld op onnodige hofsake aangesien dit duidelik was dat die bedrywighede ondergrondse water sou besoedel en ‘n negatiewe effek op landbou sou hê.
Dit sou die minister (me. Edna Molewa) loon om ‘n besoek aan Texas te bring om eerstehands die tragiese gevolge van hidrobreking te aanskou en die barre landskap wat dit meegebring het.
Die departement moet dringend reggeruk word en die regering moet die waarde van die omgewing besef en Suid-Afrika se kosbare hulpbronne bewaar voordat daar niks meer oor is om te red nie.
Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216


