In die begrotingsdebat van die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling het ‘n eensydigheid ten koste van alle witmense, maar veral Afrikaners, gekristalliseer.
Om ‘n toekoms in Afrika te verseker, sal Afrikaners opnuut hulle opsies moet oorweeg.
Die minister, mnr. Mzwanele Nyontsho, het begin deur te beloof dat die voorgenome Billike Toegang tot Grond-Wetsontwerp vanjaar nog deurgevoer sal word.
In haar reaksie het me. Rachel Adams van die ANC verklaar dat hulle die wet ondersteun, omdat dit nie op die markmeganisme steun nie.
Die MK en EFF se verteenwoordigers, mnre. Andile Mngxitama en Sam Matiase, het deurlopend na witmense as gronddiewe verwys. Hulle het ook aangedui dat die mikpunt van 30% van Suid-Afrikaanse grond teen 2030 aan swart mense moet behoort, onvoldoende is.
Die MK het verder aangekondig dat hy ‘n private wetsontwerp gaan voorlê wat die afsnydatum vir grondeise na 1652 sal terugskuif.
Die enigste party wat hierdie narratief bevraagteken het, was die VF Plus. Die party het daarop gewys dat Jode in Duitsland in die 1930’s kan getuig hoe gevaarlik dit raak as ‘n hele etniese groep as misdadig gereken word, alleenlik op grond van hulle afkoms.
Volgens die VF Plus moet so ‘n groep homself beveilig. Dit kan op indiwiduele grondslag plaasvind, met verdediging van eiendomsreg in die howe. Dit kan grondhervorming onbepaald frustreer.
Die ander moontlikheid is om Afrikaners as ‘n groep te erken, ook met die oog op grondbesit.
Volgens die VF Plus is daar sekere konflikte wat slegs deur selfbeskikking opgelos kan word: Die Sahrawi-probleem in Marokko, die Palestynse probleem in Israel en die Afrikaner-probleem in Suid-Afrika.


