Die VF Plus waarsku inwoners van die Ekurhuleni-metro hiermee teen booswigte wat tans vals Whatsapp-boodskappe aan mense van Kemptonpark stuur om moontlik toegang tot hul huise te verkry.
Die persone doen hulself voor as amptenare van Ekurhuleni se departement van energie en dreig met die onmiddellike afsny van krag weens agterstallige skuld.
Die boodskappe is vals en ontwerp om inwoners te intimideer en toegang tot hul huise of persoonlike inligting te verkry.
ʼn Boodskap wat vanaf die selfoonnommer 068 724 9873 aan ʼn inwoner van Silverleaf in Birchleigh gestuur is, lui soos volg:
“Good day. It’s Kelvin Ndlovu from City of Ekurhuleni Metropolitan Municipality. It’s in regards to a scheduled disconnection for property on (adres) because of an arrears in the municipal account. I tried calling earlier on but your phone went on voice-mail. We are going to be at the premises in the next 2 hours.”
ʼn Soortgelyke boodskap is ook aan ʼn inwoners van Bosduifstraat in Terenure gestuur.
Die boodskappe gaan gepaard met ʼn foto van ʼn Ekurhuleni-amptenaar in ʼn uniform by ʼn substasie om ʼn vals gevoel van gesag te skep.
Met die persoon se besoek aan ʼn perseel, toon hy ʼn vervalste rekening wat aandui dat die huisbewoner ʼn sekere bedrag agterstallig is, maar dat hy bereid is om vir R2 000 die rekening op datum te kry.
Die VF Plus wil dit duidelik stel dat geen amptelike metro-amptenaar ʼn persoonlike Whatsapp sal stuur om die afsny van krag te kommunikeer of toegang tot eiendom te verkry nie.
Die voorneme om dienste te sny, sal deur ʼn formele kennisgewing gekommunikeer word.
Inwoners word versoek om Whatsapp-boodskappe van verdagte selfoonnommers te rapporteer by die metro se bedroglyn by 0800 102 201.
Inwoners kan ook hul plaaslike VF Plus-raadslid kontak om hulp.


