fbpx
Vryheidsfront Plus

Begrotingsdebat in Nasionale Raad van Provinsies: Parlement – Parlement moet minderhede ook dien

Die parlement van Suid-Afrika is die hoogste platform van diens aan die land aan sy mense. Tog wil dit voorkom of talle parlementslede dié waardige instelling net wil misbruik om te ontwrig en te intimideer om die parlement se werksaamhede sodoende te saboteer.

Die parlement is ‘n grondwetlike instelling en sy werksaamhede word binne ‘n grondwetlike raamwerk vasgelê. Sommige lede is klaarblyklik van mening hul parlementêre status maak hulle onaantasbaar en dat vergrype soos die kondonering van staatskaping en -stroping, soos by die VBS-bank, straffeloos sal bly.

Dit wil tans voorkom of die ANC se enigste strategie om die land te red, omkeerstrategieë is met die fokus om wittes op elke gebied uit die werkplek te druk en met hoofsaaklik kaders te vervang, ongeag hul bevoegdheid.

Dit is lafhartig van die ANC om wittes die skuld te gee vir alle probleme wat in die verskillende departemente ondervind word. Dit raak so absurd dat wit Afrikaners selfs die skuld kry dat toeriste die land nie wil besoek nie, aldus die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor toerisme.

Hierdie opmerking is gemaak nadat Toerisme Suid Afrika in sy jaarverslag aangedui het die debat oor grondonteiening sonder vergoeding is as een van vyf sleutelkwessies geïdentifiseer wat “negatiewe persepsies” veroorsaak en ’n invloed het op internasionale toeriste wat Suid-Afrika wil besoek.

Die uitsondering van die Afrikaner in hierdie verband, dui enersyds op ‘n ontkenning dat ander rassegroepe in Suid-Afrika ook bekommerd is oor die regering se planne om grond te onteien en andersyds op die regering se voorliefde vir blaamverskuiwing, in stede daarvan om eienaarskap te neem vir sy mislukkings.

Die ANC se voorsitter in die nasionale vergadering het onlangs gesê ‘n EFF-parlementslid se uitlating dat Afrikaans ‘n “walglike taal” is, is nie onparlementêr nie. Dit blyk inderdaad dat beide die EFF en die ANC hul grondwetlike en morele kompas verloor het.

Begrotings moet sinvol bestee word en departemente moet doelgerig saamwerk met ‘n holistiese einddoel al die mense van Suid-Afrika te dien.

Die land se mense het genoeg gely onder ‘n ANC-regering. Plaasmoord, misdaad en voorvalle soos Esidimeni en die gebeure in Mamelodi-hospitaal waar’ bejaarde vrou vasgebind op die vloer gelê het, is onaanvaarbaar.

Minderhede word selfs verder onderdruk deur Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). Solank wette wat dit onderlê van krag is, kan daar nie sprake wees van een Suid-Afrika vir al sy inwoners nie.

Daar is hoop!

Met vertroue op op ons Hemelse Vader sal ons geen mens vrees nie! Deur Sy Genade kan ons elke beproewing deurstaan!

Kontaknommer: 079 885 1135

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.