fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC in Gauteng nie ernstig oor die afskaffing van e-tol nie

Die premier van Gauteng, David Makhura, het vandag met sy antwoorde in ‘n vrae en antwoordsessie in die wetgewer aangetoon dat die Gautengse ANC nie ernstig is om e-tol af te skaf nie. Die hele proses van die premier blyk oëverblindery te wees ter wille van populariteit.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-LPW, het die premier gevra of hy bereid sal wees om die formele prosesse soos uiteengesit in die Interregerings-verhoudinge Raamwerk-Wet 13 van 2005, te implementeer wat daargestel is om dispute tussen verskillende vlakke van regering te bestuur.

Hiermee kan die premier ‘n formele dispuut met die nasionale regering oor e-tol verklaar. Indien al die remedies in terme van die wet uitgeput is, kan die provinsiale regering die nasionale regering hof toe neem.

Die VF Plus het dus ook aan die premier gevra of hy wel, indien die wet se remedies uitgeput is, bereid sal wees om die nasionale regering hof toe te neem.

Die premier het ontwykend geantwoord op die spesifieke vrae deur bloot te sê dat daar tans ‘n proses is tussen hom en die president en dat hy nie sake vooruit wil loop nie.

Die VF Plus het egter ‘n probleem met die antwoord aangesien die proses met die president informeel is en buite die betrokke wet val. Daar is ook geen waarborg oor die uitkoms nie.

Die VF Plus is van mening dat die premier ‘n formele proses moet volg indien die Gautengse ANC werklik ernstig is oor die afskaffing van e-tol.

Indien die proses met die president faal sal die VF Plus druk op die premier plaas om die prosesse van die betrokke wet te gebruik en uiteindelik die nasionale regering hof toe te neem om e-tol af te skaf.

Die inwoners van Gauteng kan eenvoudig nie meer die onsekerheid oor die e-tol bekostig nie.

Kontaknommer: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.