Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die burgermeester van Tshwane, Stevens Mokgalapa, dat die stad nie sal voortgaan om die nuwe kragtariewe te implementeer alvorens NERSA nie goedkeuring daarvoor gegee het nie.
Die besluit is in lyn met die VF Plus se voorlegging aan NERSA dat die vorige jaar (2018/19) se goedgekeurde tariewe gebruik moet word as die vertrekpunt.
Die VF Plus het na die onlangse verhoging van kragtariewe deur die Tshwane-metroraad, ‘n voorlegging aan NERSA gemaak met voorstelle wat tot voordeel is van beide die metroraad en die verbruiker.
Die VF Plus het in sy voorlegging aan NERSA ‘n balans voorgestel tussen die metroraad se behoeftes en die van die verbruiker wat reeds onder druk is in terme van hul besteebare inkomste en stygende lewenskoste.
NERSA het die tariewe wat ingedien is deur die metroraad afgekeur, maar die stad het aanvanklik besluit om voort te gaan om die tariewe op 1 Julie 2019 vir die verbruikers van voorafbetaalde krag te implementeer. Die VF Plus het hom van hierdie besluit gedistansieer.
NERSA het besluit om ‘n openbare verhoor oor die aangeleentheid te hou. Tydens die openbare verhoor is verteenwoordigers van die metroraad daarop gewys dat hulle aansoek onvolledig is. Volgens NERSA se riglyne moet ‘n behoorlike koste-analise ‘n aansoek vergesel indien daar wesenlike verandering aan die struktuur is. Die metroraad het nie aan hierdie vereiste voldoen nie.
Die VF Plus se voorlegging is goed ontvang deur NERSA en het die volgende ingesluit:
• Dat daar nie genoegsame en behoorlike navorsing gedoen is rakende die nuwe struktuur en die impak wat die op die verbruiker sal hê nie. Die vraag is wat die rasionaal was vir die voorgestelde vaste fooi van R56 vir gewone verbruikers en R250 vir landbou-verbruikers.
• Dat die voorgestelde vaste fooie in geheel geskrap word.
• Dat die vorige jaar (2018/19) se struktuur (vier blokstruktuur) wat deur NERSA goedgekeur is, gebruik word en slegs met ‘n kombinasie van inflasie (4.5%) en die NERSA-riglyn van 13.07% aangepas word.
NERSA het die metroraad sewe dae gegee om uitstaande inligting aan die hom te verskaf waarna ‘n finale besluit geneem sal neem.
Kontaknommer: 072 815 40535 4053