Die VF Plus spreek sy diepe afgryse uit oor die wrede plaasaanval wat gisteraand die Mahne-familie van Baltimore getref het.
Wat vir die meeste Suid-Afrikaners ’n tyd van vreugde en dankbaarheid behoort te wees, het vir hierdie familie in ’n oogwink verander in ’n nagmerrie wat geen boer en sy gesin ooit behoort te beleef nie.
Oom At Mahne het sy lewe tragies verloor en sy vrou, tannie Petro is na die Ellisras-hospitaal gehaas.
Die presiese verloop van gebeure word nog ondersoek.
Die VF Plus spreek sy waardering uit teenoor Sakkie Louwrens van Bosveld Misdaad (BMO) en sy span vir hul onbaatsugtige diens en toewyding.
Hulle stel hulself telkens bloot aan die gruwelikste tonele om die waarheid te ontrafel en leidrade te bekom wat kan lei tot die vastrek van die aanvallers.
Die VF Plus veroordeel plaasaanvalle ten sterkste.
Hierdie misdade is nie blote statistiek nie, maar ’n direkte aanval op die land se voedselprodusente en op die veiligheid van landelike gemeenskappe.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat die regering plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad verklaar en daadwerklike optrede volg.
Die party betuig sy innige meegevoel aan die Mahne-familie en bid dat die Vader hulle in hierdie donker tyd sal dra en versterk.


