Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Andries Scribante-bejaardesorgsentrum in Boksburg verwaarloos terwyl metro versoeke om hulp ignoreer

Die VF Plus is bekommerd oor die verval en haglike toestand waarin die Andries Scribante-bejaardesorgsentrum in Boksburg verkeer.

Dié sorgsentrum, wat vir jare ʼn veilige hawe vir senior burgers was, het nou ʼn simbool geword van die Ekurhuleni-metro se versuim om die nodige onderhoudswerk aan die sentrum te verrig.

Die VF Plus is al jare lank by die sentrum betrokke en het sedert 2021 gereelde klagtes by die metro ingedien om die probleme op te los.

Die party het onlangs met die bestuur en inwoners vergader om hul probleme aan te hoor.

Inwoners is bekommerd oor waterpype wat bars en skade aan mure en kaste aanrig. Die geboue en tuine is vervalle en woonstelle staan leeg terwyl mense maande lank op ʼn waglys is.

Hulle betaal ook self vir herstelwerk wat die metro se verantwoordelikheid is.

Inwoners ontvang diensterekeninge sonder ʼn behoorlike uiteensetting van krag- en waterverbruik.

Die opsigterskantoor funksioneer nie meer nie wat beteken daar is geen aanmeldingspunt vir probleme nie. Daar is ook geen forum waar vrae, insette of terugvoering aan inwoners verskaf word nie.

Die VF Plus se raadslede in die metro het al self ingespring om vullis te verwyder en vullisdromme skoon te maak.

Die VF Plus het ʼn dringende versoek aan Ekurhuleni se departemente van behuising en finansies gerig om die volgende aan te spreek:

• Onopgeloste diensleweringskwessies
• Gebarste warmwaterpype
• Rekenings en finansiële onduidelikhede
• Verval van die geboue en omliggende area
• Verkiesing van blokkomitees
• Herstel van die kantoor van die opsigter

• ‘n Gestruktureerde vraag-en-antwoord geleentheid vir inwoners

Die inwoners het self ook ʼn versoek aan die metro gerig dat amptenare verbonde aan die departement van behuising die sentrum besoek om klagtes aan te hoor.

Geen terugvoering is ontvang nie. Die kantoor van die burgemeester, hoof van behuising en die verhoudingsbestuurder is ook geskakel, maar die versoeke het ook op dowe ore geval.

Die VF Plus eis nou die volgende:

• Dat hierdie versoek as uiters dringend geag word en ‘n vergadering onmiddellik beplan word.
• Dat ‘n volledige plan van aksie binne sewe dae aan inwoners oorhandig word.
• Dat die verantwoordelike amptenare tot verantwoording geroep word vir hul nalatigheid.
• Dat die menswaardigheid en grondwetlike regte van die bejaardes herstel en beskerm word.

Senior burgers verdien nie hierdie soort behandeling nie. Die VF Plus kan nie toekyk terwyl bejaardes aan hul eie lot oorgelaat word nie.

Die VF Plus sal voortgaan om druk op die metro te plaas om probleme by die Andries Scribante-bejaardesorgsentrum aan te spreek.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.