(Werkersdag-debat in parlement: Gebruik industrialisasie en handel om ordentlike werk en sosiale geregtigheid te verwesenlik)
Die VF Plus erken die potensiaal van industrialisering en handel om ordentlike werk en sosiale geregtigheid in Suid-Afrika te bevorder, maar waarsku dat die ANC se huidige beleid en benadering hierdie ideaal ondermyn.
Die ANC se fokus op gelyke uitkomste bo gelyke geleenthede skep ‘n illusie van wêreldklas-gesondheidsorg en -voorspoed, maar in werklikheid vererger dit armoede en werkloosheid, veral onder swart Suid-Afrikaners, waar werkloosheid sedert 2008 verdubbel het.
Die Vierde Industriële Rewolusie bied ongekende geleenthede, maar die regering het hierdie momentum gemis met verouderde, diskriminerende beleide wat die arbeidsmark oorreguleer en die privaatsektor – die land se grootste werkskepper – beperk.
Wetgewing soos die Wet op Diensbillikheid en ander rasgegronde wette skep struikelblokke vir werkskepping, terwyl beleggingsgeleenthede verlore gaan weens swak bestuur, verwaarloosde infrastruktuur en ontoereikende munisipale dienslewering.
Industrialisering kan nie ordentlike werk waarborg as ondernemings in landelike gebiede gedwing word om hul deure te sluit nie. Swak plaaslike bestuur, besoedelde water en vervalle infrastruktuur dryf maatskappye uit klein dorpies.
Boonop lei drakoniese oorregulering tot meganisasie by ondernemings wat verdere werksverliese veroorsaak, veral vir die armstes in die land.
Suid-Afrika se handelsbetrekkinge ly ook onder die ANC se internasionale beleid wat die land met twyfelagtige globale spelers vereenselwig.
Die VF Plus pleit vir ‘n nuwe benadering: Laat die privaatsektor toe om te groei sonder onnodige inmenging, ondersteun ondernemings met ordentlike infrastruktuur en prioritiseer opleiding om aanstelbare kandidate te lewer.
Slegs deur ekonomiese groei en gelyke geleenthede kan industrialisasie en handel sosiale geregtigheid waarborg. Sonder hierdie basiese beginsels bly die ANC se beloftes blote lippediens, terwyl die kloof tussen arm en ryk bly groei.