Die nuwe maatreëls rondom e-tol wat pres. Cyril Ramaphosa vandag aangekondig het, maak dit duidelik dat die stelsel misluk het weens openbare verset, en dat dwangmaatreëls nou gebruik gaan word om tolgeld in te vorder,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Hy sê die vermindering van die maksimum-maandelikse koste is ook net ‘n foefie om groter publieke deelname te verseker sonder enige waarborge oor toekomstige aanpassings in tariewe.
Volgens adv. Alberts het die E-Tol-Aksiegroep (TAG) waarvan die VF Plus een van die rolspelers is, reeds vergader om die aanpassings te bespreek, en die groep staan steeds onwrikbaar by sy standpunt dat e-tol ‘n immorele stelsel en ‘n onwettige vorm van belasting is.
Die aksiegroep sal voortgaan met sy hofaksie om e-tol onwettig te laat verklaar en sal weldra ‘n verklaring daaroor uitreik.
“Adj.pres. Ramaphosa het vandag herhaaldelik gespog dat die veranderinge wat aangebring is, die gevolg is van ‘n regering wat ‘omgee’ vir die publiek en na hulle luister.
“Net die teenoorgestelde is egter waar. Dit is juis omdat die ANC-regering nie na die mense wou luister en genoegsaam met hulle gekonsulteer het nie, dat die staat nou met hierdie groeiende skuldlas van veel meer as R20 miljard sit.
“Gister het die VF Plus ‘n verklaring met statistiek uitgereik wat aantoon dat die inkomste uit e-tol sedert Junie verlede jaar baie skerp afneem. Wat hier gesien word, is ‘n desperate poging van die staat om die stelsel van ineenstoring te red. En dit geskied op die publiek se rekening.
“Dit kan vergelyk word met die Eskom-fiasko waar die publiek nou deur ‘n aangevraagde verhoging van 25% gedwing gaan word om vir Eskom se wanbestuur te betaal.
“Dit is bekend dat meer as R60 miljard jaarliks in Suid-Afrika deur bedrog, diefstal, korrupsie en wanbestuur verlore gaan. Dit is meer as genoeg om op een slag die totale skuld van die e-tol-stelsel te delg.
“Die staat se soustrein stoom egter ongehinderd voort terwyl die publiek met allerhande maatreëls soos e-tol en buitensporige tariefverhogings gedwing word om daarvoor te betaal.
“Die VF Plus sê steeds daar moet totaal weggedoen word met e-tol en sal ook die nuwe maatreëls op elke manier moontlik teenstaan,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403