Die feit dat ‘n werklik siek Clive Derby-Lewis nog in die gevangenis is terwyl iemand soos Schabir Shaik vry is om gholf te speel en inkopies te doen, dui onteenseglik op die dubbele standaarde en politieke motiewe van die minister van korrektiewe dienste, mnr. Mike Masutha, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir korrektiewe dienste.
Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die departement gesê dit kan nie goedgekeur word wat Derby-Lewis gedoen het nie, en hy is daarvoor gestraf.
Wat egter met Derby-Lewis se parool-aansoek gebeur het, was verkeerd, veral as in aanmerking geneem word dat iemand soos Shaik slegs twee jaar en nege maande van sy vonnis van 15 jaar uitgedien het waarna hy mediese parool gekry weens ‘buitengewone hoë bloeddruk’. Derby-Lewis is al 22 jaar agter tralies, sê dr. Groenewald.
“Shaik is gesond genoeg om met sy hoë bloeddruk en al gholf te speel met sy hoë vriende in hoë poste. Dis hoekom hy parool gekry het. Dan doen hy boonop aansoek dat sy mediese parool in gewone parool verander word en dit word toegestaan. Hoe arrogant is dit nie. Hy sê eintlik hy het nooit iets makeer nie.
“Maar as dit kom by Clive Derby-Lewis, dan sê die minister selfs hy het nie eintlik dokumente en mediese verslae in die naam van Derby-Lewis nie. Dit is ten spyte daarvan dat die minister goed weet dat korrektiewe dienste Derby-Lewis aangeraai het om onder ‘n ander naam in die hospitaal opgeneem te word.
“Dit is gedoen op aanbeveling van die departement. Dan kom die minister ook hoogheilig en sê hy sien niks fout met Derby-Lewis nie, en dat hy vir homself kan sorg as hy kan rondbeweeg in die gevangenis – al is hy in ‘n hospitaal.
“Die minister sit nou en lag as ek hieroor praat, maar dit is duidelik dat hy dubbele standaarde toepas. Sy politieke onderrok sleep eintlik agter hom aan soos die tooisel van ‘n bruid. Dit is hoe sy dubbele standaarde wys.
“Ek wil ‘n beroep op die minister doen om ernstig te raak oor hierdie saak. Hy besluit oor finale parool. Wees billik en regverdig, en as u dit is, sal u sorg dat Clive Derby-Lewis wel parool kry,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403