fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC-nalatigheid en wanbestuur lei tot gedwonge sluiting van munisipale geboue in Ventersdorp

Die gebrek aan instandhouding en wanbestuur van die ANC-beheerde JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp), het daartoe gelei dat die departement van arbeid een van die munisipale geboue in Ventersdorp formeel gesluit en onveilig verklaar het.

ʼn Kennisgewing tot hierdie effek is by die gebou aangebring.

ʼn Jarelange gebrek aan instandhouding het daartoe gelei dat die gebou se dak tot só ʼn mate verval het dat die plafonne weens waterskade begin meegee het.

Die hele gebou is in ʼn vervalle toestand ten spyte daarvan dat die VF Plus en gemeenskapslede by herhaling gewaarsku het dat die perseel onveilig vir die publiek en werknemers geraak het.

Hierdie kennisgewing volg ook nadat die munisipale raad reeds in Maart vanjaar R7 miljoen bewillig het vir die dringende herstel van die munisipale geboue in Ventersdorp.

Daar is sedertdien skynbaar nog niks aan gedoen nie. Sulke nalatigheid is onaanvaarbaar.

Die VF Plus het dit ook tydens die raadsvergadering in Maart duidelik gestel dat gefokus moet word op die dringende herstel van die geboue en dat enige onnodige uitgawes soos die huur van alternatiewe akkommodasie op verdere wanbesteding van inwoners se geld sal neerkom.

Dit is ʼn skande dat hierdie eens trotse munisipaliteit nou deur ʼn ander owerheidsinstelling verplig moet word om sy verantwoordelikhede teenoor sy inwoners en werknemers na te kom.

Skandelik ook is die ANC in JB Marks se klaarblyklike disrespek teenoor die skade van miljoene rande aan die gemeenskappe van Potchefstroom en Ventersdorp se bates wat aan hom toevertrou is om te bestuur.

Hierdie stand van sake, en die gepaardgaande vermorsing van belastinggeld, is tekenend van ʼn ANC-regering wat bloot op eiebelang ingestel is in die skynbare geloof dat kiesers nie die omvang van sy stropery, korrupsie en onvermoë om te regeer, besef nie.

Die inwoners van JB Marks verdien beter as die ANC.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.