Die VF Plus verwag dat die ANC uit sy eie sak sal betaal vir die herstel van die laerskool in Katlehong wat deur inwoners wat elektrisiteit eis, aan die brand gesteek is.
Die VF Plus het male sonder tal in die parlement gewaarsku dat skole beskerm moet word teen oproeriges wat skole beskadig om hul misnoeë teen ‘n saak, wat meestal swak dienslewering is, te toon.
Die VF Plus het juis ‘n wetsontwerp in dié verband by die parlement ingedien om die Wet op Regulering van Byeenkomste te wysig om sodoende te verbied dat enige optog mag plaasvind binne 500 meter van ‘n skool of enige instansie wat minderjariges huisves.
Die ANC het die wetsontwerp nie aanvaar nie aangesien hy van mening is die wet moet in totaliteit gewysig word. Die polisie het aangevoer dat die wet in ‘n oorsigproses is en dat die VF Plus se voorgestelde wysiging vir eers op ys geplaas moet word.
Intussen is skole onder beleg, soos die VF Plus in die parlement uitgewys het, en dit is ironies dat die parlement self en die Uniegebou, waar verkose amptenare sit wat die bevolking van diens moet wees, wel deur die betrokke wet beskerm word. By dié plekke is wel ‘n beperking oor waar optogte mag plaasvind.
Parlementslede en die uitvoerende gesag word dus wel beskerm teen die publiek wat hulle faal, veral ten opsigte van dienslewering, maar weerlose minderjarige kinders en gemeenskappe by skole geniet nie daardie beskerming nie.
Die VF Plus is daarom van mening dat die ANC uit sy eie sak moet betaal vir die skade by die skool in Katlehong, of by enige ander skool wat tydens oproerigheid beskadig mag word.
‘n Verdere negatiewe uitvloeisel van skole wat beskadig word, is dat dit druk op funksionele skole plaas – veral op Afrikaans skole – om die leerlinge in te neem van ‘n skool soos hierdie wat nie meer gebruik kan word nie.
Erger as die skade aan ‘n gebou is die trauma en fisieke gevaar waaraan leerlinge blootgestel word wanneer hul skool deur ‘n oproerige skare aangeval en beskadig word.
Indien die regering werklik voorsorg wou tref teen die beskadiging van skole, sou die VF Plus se wetsontwerp aanvaar word wat die polisie verplig om teen enige optog of oproerige byeenkoms binne ‘n sekere radius van ‘n skool op te tree om te verhinder dat dit beskadig word.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 066 010 1093