(Debat in parlement oor verklaring van minister oor sosio-ekonomiese ingrypings om impak van Covid-19-pandemie te versag)
Te midde van 'n byna eindelose reeks verbreekte beloftes word daar van gewone arm Suid-Afrikaners verwag om te oorleef met 'n totaal ontoereikende bedrag van R350 as bystandtoelaag. Hoewel die ingrypings op die oppervlak edel klink, moet die langtermyn-gevolge nog gevoel word.
Dit is hoogtyd dat die departement van maatskaplike ontwikkeling eerlik raak met Suid-Afrikaners oor die hulp wat aan hulle gebied word om hulle deur die Covid-19-krisis te kry.
Die toelaag van R350 is met groot fanfare aangekondig toe betalings vanaf middel Mei beloof is, maar dit was leë beloftes van die begin af. Slegs tien ontvangers het baat gevind by die beloofde uitbetaling op 15 Mei.
Die belofte dat Mei-aansoeke teen die einde van daardie maand betaal sou word, het ook nie plaasgevind nie. Nie eers een uit ses miljoen aansoekers en drie miljoen goedkeurings is uitbetaal nie.
Toe het die belofte dat die uitstaande Mei-aansoeke in Junie betaal sou word, ook nie gerealiseer nie, omdat die stelsels wat die aansoeke moes beoordeel, verkeerd was.
Daarna is belowe dat die uitstaande betalings van Mei en Junie saam gedoen sou word, maar dit is verkeerd gerapporteer en verstaan.
Nadat daar teruggekrabbel is dat die toelaag van R350 nie vol uitbetaal sou word nie, is dit ook toegeskryf aan verkeerde rapportering en ‘n misverstand. Nou word daar skynbaar dubbele betalings gemaak, maar slegs by poskantore.
Die ANC beweer dat volgens die Vryheidsmanifes, sosio-ekonomiese ontwikkeling 'n geboortereg vir alle Suid-Afrikaners is. Maar mense wat nie swart genoeg is vir hulp met klein-sakeondernemings nie, of wat nie arm genoeg is vir toelaes nie, of nie vriende van die ANC is om WVF-TERS-toelae te ontvang nie, word agtergelaat. Hulle kry nie die geboortereg wat volgens die ANC hul reg is nie. Die ANC het sy eie Vryheidsmanifes gefaal.
Alhoewel hierdie toelaes jammerlik klein is, eis die VF Plus om te weet hoe die regering van plan is om te verhinder dat dit permanent word en as dit gestop word, hoe verwag die regering dat ontvangers van toelae daarsonder gaan oorleef?
Ons sal nie verbaas wees indien daar in Oktober aan ons gesê word dat hierdie toelaes ‘n permanente deel van die welsynslandskap word nie. Belastingbetalers sal weereens moet betaal vir 'n politiek-gemotiveerde toelaag wat ontwerp is om kiesers vir die ANC te laat stem.
Navrae: 082 490 6663