fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC erken prontuit hy het beheer verloor oor misdaad in Mpumalanga

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, mnr. Vusi Shongwe, het in ‘n departementele oorsigkomiteevergadering ruiterlik erken dat die polisie beheer verloor het oor misdaad in die provinsie.

Tydens die vergadering het die LUR beaam dat die plaaslike misdaadsindikate tans sterker is as die provinsie se polisiemag en dat omkopery hoogty vier. Misdadigers beskik glo ook oor meer en beter wapens as polisielede.

“Vuil” geld speel ook glo ‘n kommerwekkende rol in die omkopery van polisiebeamptes.

Dit is veral transitorooftogte wat op die oomblik ‘n wesenlike bedreiging inhou vir openbare veiligheid in die provinsie.

Die provinsiale misdaadstatistiek vir die eerste kwartaal van die 2023-2024 finansiële jaar bewys dit is een van die vinnigste groeiende vorme van roof met verswarende omstandighede.

Daar was vanaf April tot Junie 64 voorvalle van transitorooftogte teenoor 54 voorvalle vir dieselfde tydperk verlede jaar. Dit het dus met ‘n kommerwekkende 18,5% gestyg.

Naas Gauteng vind die meeste transitorooftogte in Mpumalanga plaas en dra die provinsie 13% by tot alle gevalle in die land, die tweede meeste van alle provinsies.

Wat veral opvallend is van hierdie rooftogte, is die brutaliteit van die betrokke misdadigers en die geweld wat daarmee gepaard gaan. Net so kommerwekkend is die oënskynlike onvermoë van die strafregstelsel om hulle te keer en die betrokkenheid van korrupte polisielede.

Drie lede van Witrivier se blitspatrollie-eenheid het vroeër dié week voor die Malalane-landdroshof verskyn vir hulle beweerde betrokkenheid by transitorooftogte in die provinsie. Die hele blitspatrollie-eenheid is hierna tydelik ontbind vir ondersoeke.

‘n Verdere vier beskuldigdes is intussen ook Dinsdag in hegtenis geneem en het Woensdag voor dieselfde hof verskyn. Borgtog is nie toegestaan nie.

Dit volg kort na ‘n Mbombela-verkeerspolisielid voor die Hazyview-landdroshof verskyn het vir haar beweerde betrokkenheid by ‘n transitorooftog.

Die publiek kan nie kwalik geneem word indien hulle besig is om toenemend vertroue in ’n polisiediens te verloor wat tou opgooi in die geveg teen misdaad nie.

Al wat dit kan verander is om vir ‘n koalisieregering te stem in 2024.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.