Dit is skokkend dat die kultuur van korrupsie in die ANC-beheerde Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Orkney, Stilfontein en Hartbeesfontein) so diep ingewortel geraak het dat die voorsitter van die raad se finansiële oorsigkomitee, me. Matiboho Masiako, vandag deur die Valke in hegtenis geneem is vir beweerde afpersing en korrupsie.
Mosiako is vandag deur die Valke in ʼn lokval in Klerksdorp in hegtenis geneem nadat sy skynbaar R100 000 van ʼn munisipale diensverskaffer geëis het.
Sy het na bewering gedreig dat sy sal toesien dat sy kontrak vir vullisverwydering beëindig word as hy nie die bedrag aan haar betaal nie.
Die VF Plus sal daarop aandring dat hierdie kwessie ook deurdringend deur die munisipaliteit ondersoek word in terme van die pas uitgereikte gedragskode vir munisipale raadslede.
Dit is noodsaaklik dat enige raadslede en hul moontlike meelopers wat hulle aan sulke korrupsie en afpersing skuldig maak, behoorlik vir hul dade aanspreeklik gehou word.
Die VF Plus sal voortgaan om te stry vir ʼn skoon en professionele plaaslike regering in Matlosana.
Die inwoners van Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein verdien beter as die ANC.