Die VF Plus vind dit onaanvaarbaar dat huishoudings in die eThewkini-metroraad (Durban en omgewing) wat verkies om van hernubare energie gebruik te maak, maar steeds aan die metro se rugsteunstelsel verbind is, meer vir elektrisiteit moet betaal.
Elektrisiteitstariewe in die eThekwini-metro styg op 1 Julie met 14.56%, maar gebruikers van hernubare energie, onder meer sonpanele, sal meer as dit moet betaal vir elektrisiteit.
Volgens die metroraad sal hy R1 miljard per jaar verloor aan inkomste indien mense wegbeweeg na hernubare energiebronne.
Die metroraad maak ‘n klug van president Cyril Ramaphosa se verbintenis tot die toenemende gebruik van omgewingsvriendelike hernubare energie en laat ‘n geleentheid deur sy vingers glip om onafhanklik te word van Eskom en vry te wees van beurtkrag.
Dit is nog altyd die VF Plus se standpunt dat die land moet wegbeweeg van omgewingsvernietigende energiebronne, hernubare-energie moet prioritiseer en huishoudings en dat sakeondernemings wat na alternatiewe energiebronne omskakel, belastingkortings moet ontvang en nie met tariefverhogings gestraf word nie.
Hierdie is vir die VF Plus ‘n belangrike saak, want ‘n gemeenskap wat sy eie energie
kan voorsien, word bevry van die beperkings van 'n onbevoegde regering.