Uit skriftelike vrae wat aan die Mangaung-metroraad (Bloemfontein, Dewetsdorp, Soutpan, Van Stadensrus, Wepener) gerig is, blyk dit dat die Vrystaatse departement van openbare werke meer as R990 miljoen aan die metro verskuldig is.
Die departement van openbare werke se totale skuld aan die Mangaung-metro is deel van die totale provinsiale regeringskuld van sowat R1,8 miljard wat 26% van die metro se uitstaande debiteureskuld beloop.
Die waarnemende stadsbestuurder in die metro, Teboho Maine, het ook in sy skriftelike antwoord bevestig dat skrywes aan nasionale tesourie om agterstallige skuld by die provinsiale openbare werke te verhaal, vandag steeds sedert Julie 2018 onbeantwoord is.
Maine het verder aangedui dat alhoewel die departement betalings aan die metro maak, hy steeds nie by sy betalingsooreenkoms hou nie.
Indien die provinsiale regering sy munisipale skuld delg, sal dit reeds baie van die metro se kontantvloeiprobleme oplos.
Provinsiale departemente wat nie hul skuld aan die metro vereffen nie, ontneem effektiewelik die gehalte van dienslewering wat die metro aan inwoners verskuldig is.
Die VF Plus beskou dit as ‘n skreiende skande dat departementele swak beplanning en onverantwoordelike finansiële bestuur afwentel na plaaslike regering tot nadeel van inwoners. Die regering skuld homself geld en die nimmereindigende skuldverskuiwing van een vlak van regering na die volgende kan nie langer geduld word nie.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die inwoners van die Mangaung-metro om seker te maak hulle is geregistreer as kiesers om met die plaaslike regeringsverkiesing op 27 Oktober saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat gebrekkige dienslewering en die verval van munisipaliteite gestop moet word.
Navrae: 082 305 1540