Die VF Plus dring daarop aan dat alle rolspelers wat betrokke is by die Ferrobank-watersuiweringsprojek van R54 miljoen in die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit, ondersoek word.
Die projek is reeds in Februarie 2014 van stapel gestuur maar is nog nie voltooi nie.
Die munisipale raad het intussen besluit om ‘n strafregtelike klag van korrupsie in te dien teen die tegniese hoofbestuurder, mnr. Mike Lelaka, vir sy beweerde betrokkenheid by die uitbetaling van die tender.
Die munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni / Witbank) moet egter die ondersoek uitbrei na alle rolspelers wat betrokke was by die duur projek.
Die VF Plus gaan dringende vrae by die munisipale bestuurder, Humphrey Sizwe Mayisela, indien wat sal insluit hoe dit moontlik is dat die werk afgeteken en uitbetaal is terwyl die projek nog nie voltooi is nie.
Alle rolspelers wat aandadig is by enige ongerymdhede, moet strafregtelik aangekla word.
Te dikwels word kontrakteurs en munisipale amptenare by sulke kwessies betrek, maar die ingenieursmaatskappye speel ook ‘n beduidende rol in die betaling van onvoltooide munisipale befondsde projekte.
Die VF Plus sal daarom uit sy pad gaan om toe te sien die regte vrae oor die aangeleentheid word gevra en dat die saak met die nodige aandag en dringendheid ondersoek word.