Ten spyte van die Tshwane-metro se skuldkwytskeldingsprogram het inwoners se uitstaande skuld in die vorige finansiële jaar met meer as R700 miljoen toegeneem.
Die VF Plus se siening is nog altyd dat algemene skuldafskrywing ‘n kultuur van nie-betaling aan die hand kan werk.
Luidens die vierdekwartaal-verslag van die departement van finansies wat in die jongste raadsvergadering voorgelê is, beloop verbruikers se totale uitstaande skuld nou R18,3 miljard.
Die VF Plus het die metro verskeie keer gewaarsku dat indien die metro nie finansieel verantwoordelik bestuur word nie, skuld buitensporig kan toeneem met dienslewering wat verder verswak.
Die VF Plus is veral bekommerd oor ’n toename van 600% in nuwe wanbetalings binne die 31-60 dae betalingstydperk.
Die metro se skuldverpligtinge het in die 2024/25-finansiële jaar met R2,28 miljard toegeneem. Die skuld aan Eskom alleen het met 43% gestyg.
Die VF Plus het herhaaldelik beklemtoon dat ’n begroting nie as ’n politieke wenslys beskou moet word nie, maar as ’n bindende kontrak tussen die regering en die publiek.
Hierdie kontrak verteenwoordig nie net fiskale beplanning nie, maar ook ’n verbintenis tot volhoubare dienslewering en infrastruktuurontwikkeling.
Onderbesteding van die 2024/25-finansiële begroting dui op ’n ernstige vlak van onderprestasie in dienslewering en skep kommer oor die koalisieregering se vermoë om sy verpligtinge teenoor die publiek na te kom.
Hierdie verskynsel ondermyn die vertroue van gemeenskappe en bevraagteken die doeltreffendheid van administratiewe en operasionele bestuur in die munisipaliteit.
Die VF Plus doen ’n beroep op dringende fiskale dissipline, professionele begrotingsbeplanning en ’n einde aan politieke inmenging in finansiële bestuur.
Die party waarsku teen ʼn dreigende finansiële ineenstorting in Tshwane indien die ANC-regering nie daadwerklik optree nie.
Die Tshwane-metro se inwoners verdien meer as leë beloftes en mislukte ingrepe. Hulle verdien ’n metro wat diens lewer.


