Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Afrikadag net ‘n herdenking van Afrika-ideale

(Afrikadag-debat in parlement)

Afrikadag herdenk die groot verwagtings wat hoofde van ’n nuwe, vrye Afrika sowat sestig jaar gelede gekoester het. Ongelukkig is die meeste van hierdie verwagtings intussen verydel.

Die Organisasie vir Afrika-eenheid is op 25 Mei 1963 grootliks onder inspirasie van die president van Ghana, dr. Kwame Nkrumah, gestig.

Sekere grondliggende besluite vir die “nuwe Afrika” is op daardie tydstip geformuleer. Die belangrikste daarvan was om koloniale grense te handhaaf en eerder koloniale tale te gebruik, as om inheemse tale tot tale van administrasie te ontwikkel. Dit was deel van die ideologie van Afrika-nasionalisme.

Die vraag is of hierdie ideologie geslaag het. Bruto Binnelandse Produk (BBP) per capita is dalk nie die enigste maatstaf vir sukses nie, maar dit kan tog gebruik word om lande se prestasie te vergelyk.

In 1965 was die gemiddelde per capita BBP wêreldwyd 4 300 Amerikaanse dollar teen 2010 se waarde. In 2025 was dieselfde syfer 10 500 dollar, wat beteken dat dit tot 244% van die aanvanklike waarde toegeneem het.

In Afrika is daar 22 state waarvan dieselfde syfers vir dieselfde jare beskikbaar is. Daar het dit gemiddeld tot slegs 158% van die aanvanklike waarde gestyg, van 1 313 dollar tot 2 077. In Maleisië was daar in dieselfde periode ’n groei van 656%, in Thailand 836%, in Indonesië 651%, Korea 2 463% en in Indië 549%. Al hierdie lande het in 1965 ’n laer BBP as die Afrika-gemiddeld opgelewer, maar het dit teen 2020 ver oortref.

Iets wat Afrika in hierdie tydperk gedoen het, het nie gewerk nie. Is dit die gebruik van koloniale tale wat breedgebaseerde bemagtiging gekortwiek het? Of is dit die kunsmatige grense wat tot voortgesette maatskaplike ontwrigting en gereelde konflik gelei het?

Of is dit die benadering wat uit die tema van hierdie debat spreek? ’n Tema wat verwys na “justice through reparations” – met ander woorde ’n verstandhouding dat voormalige koloniale heersers die oud-kolonies ’n ekonomie skuld?

Dit is waarskynlik ’n kombinasie van al hierdie faktore. As dít nie verander nie, sal ons oor 60 jaar weer wonder waarom Afrika aanhou om uit te sak, selfs in vergelyking met minder ontwikkelde state.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.