Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Misdaad: Versigtige optimisme oor dalende syfers

‘n Mens raak nie te vinnig optimisties wanneer jy in ‘n klein bootjie in ‘n see van misdaad ronddobber nie. Nogtans is die goeie nuus vir Suid-Afrika dat dit lyk of daar oplaas nie nuwe lekplekke aan die skuit is nie.

Die realiteit van Suid-Afrika se kritieke misdaadsituasie is steeds dat die land se moord- en verkragtingsyfer, soos baie ander soorte misdaad, van die hoogste ter wêreld is.

Die moordsyfer in Suid-Afrika is sowat 44 per 100 000 van die bevolking. Die konteks hier is dat die internasionale gemiddelde moordsyfer sowat 6 per 100 000 is.

In die eerste drie maande van vanjaar is 5 727 mense vermoor. Dit is 809 minder as in die ooreenstemmende tyd ‘n jaar gelede, maar steeds sowat 64 per dag, oftewel bykans vier mense elke uur van die dag en nag.

Vandag se misdaadstatistiek toon ‘n skerp afname in alle kategorieë misdaad teenoor ‘n jaar gelede.

Kontakmisdaad is met gemiddeld 5,8% af. Dit sluit in moord (-12,4%), poging tot moord (-5,8%) en gewapende roof (-10,4%). Verkragting is effe op met 0.3% terwyl seksuele aanranding met 0,2% af is.

Goeie nuus is ook dat die gevreesde trio-misdade skerp afgeneem het met gemiddeld 12,1%. Onderskeidelik is motorkapings af met 15,1%, roof by woonhuise met 0,4% en roof elders met 23,4%.

Ander noemenswaardige afnames is: Transitoroof (5 gevalle minder), vragmotorkaping (-21,6%), diefstal (nie by wonings) is af met 12,2%, diefstal by wonings is af met 7,6% en diefstal van motors en motorfietse is 9,1% minder.

Dit is ook welkome nuus dat veediefstal luidens die statistiek ‘n afname van 8,9% toon teenoor begin verlede jaar.

Dit is opvallend dat die misdaadsyfers ‘n toenemend beter prentjie begin skets sedert die nuwe polisieminister, Senzo Mchunu, die besem in die hand het. Hy is sedert Julie verlede in die pos en onder hom is daar gewis ‘n verbetering in die statistiek.

Dit is daarom jammer dat die minister dit vandag moes goeddunk om vir die eerste keer ras te voeg by die twee plaaseienaars en ander persone wat in landelike omgewings vermoor is.

Buiten die twee boere is twee werkers, een bewoner en ‘n plaasbestuurder vermoor. Net die bewoner was wit. Wat amptelike statistiek aanbetref, is dit voorheen nooit nodig geag om kleur te heg aan plaasmoorde en -aanvalle nie.

Dit is verder vir die VF Plus skokkend dat daar voor en ná vandeesweek se gesprek tussen president Donald Trump en Cyril Ramaphosa vanuit verskeie oorde pogings opduik om die omvang en wreedheid van plaasmoorde te versag.

Reeds in 1998 was plaasaanvalle so ‘n groot probleem dat die regering vir kommissaris Suiker Brits van die polisie opdrag gegee het om dit te ondersoek en ‘n verslag daaroor saam te stel. (Rapport, 16 Augustus 1998)

Die ondersoek het bevind dat daar geen georganiseerde gronde gevind kon word nie. Oor opruiende uitsprake soos “Kill the Boer, Kill the Farmer”, het hy nogtans aanbeveel dat oorsake soos rassisme en ideologie ondersoek moet word. Dit is nooit gedoen nie.

Die werklikheid van plaasaanvalle kan nie ontken word nie. Die VF Plus volstaan steeds by sy jarelange pleidooi dat dit tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Riaan van Heerden

Kirkwood: Van groen tot vervalle

Kirkwood, ʼn eens florerende en verwelkomende dorp, word deesdae geteister met diensleweringsprobleme wat inwoners warm onder die kraag het. Dié dorp, Addo en Paterson in

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.