fbpx
Vryheidsfront Plus

Aarto steeds nie uitvoerbaar onder ʼn ANC-regering

Die VF Plus beskou die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto) as onuitvoerbaar onder ʼn ANC-regering.

Die party meen dat die Aarto-wet nie sy oogmerke sal kan bereik nie, nieteenstaande die Grondwethof se bevinding dat die wet grondwetlik is.

Die toetsfase van Aarto was in Johannesburg en Tshwane/Pretoria. Dit het duidelik getoon dat beserings en sterftes weens padongelukke geensins gedaal het nie, maar eerder toegeneem het sedert die implementering van die stelsel.

Die Aarto-wetgewing het daardeur sy eerste kernoogmerk in terme van artikel 2(a) gemis, naamlik om gehoorsaamheid vir padverkeersreëls aan te moedig en padverkeer-veiligheid te bevorder.

Volgens die VF Plus kon die grondwetlike hof moontlik ʼn ander siening gehuldig het indien die onuitvoerbaarheid en misbruike wat onder Aarto in Gauteng plaasgevind het, onder die hof se aandag gebring was.

Daar was reeds in 2014 ʼn hofbevinding in Gauteng teen die minister van vervoer in verband met die onreëlmatige toepassing van die Aarto-stelsel.

Dié aansoek is gebring deur Fines4U wat padverkeersboetes betaal en bereg namens padgebruikers.

Fines4U het onder meer aangevoer dat die beregting van dié maatskappy se vertoë deur die Padverkeeroortredings-agentskap (RTIA) onwettig is aangesien sommige vertoë aanvaar is en ander op presies dieselfde grondslag verwerp is.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in sy uitspraak die ontstellende onbevoegdheid van die Aarto-stelsel blootgelê.

Die hof het met Fines4U saamgestem dat RTIA se inkonsekwente beregting van vertoë onaanvaarbaar is en dat selfs tegniese verwere ook tydens vertoë geopper kan word.

Die minister van vervoer het sonder sukses teen die uitspraak probeer appelleer. Hierdie hofbeslissing staan dus nog as ʼn presedent teen die misbruike van die Aarto-stelsel en sal in die toekoms gebruik kan word om wettige optrede af te dwing.

Ander probleme wat ook opgeduik het tydens die Aarto-toetstydperk in Gauteng was die volgende:

• Sodra ʼn oortreding begaan is, moet ʼn kennisgewing binne 40 dae uitgereik word. In werklikheid was talle kennisgewings nie in tyd uitgereik nie, maar is daar steeds vereis dat die boetes wat daarop volg betaal moet word. Daar was selfs tye waar kennisgewings binne die rekenaarstelsel gegenereer is, maar nooit uitgereik is nie terwyl die owerhede steeds betaling daarvoor vereis het! Die minister van vervoer het in 2016 alreeds aangedui – na aanleiding van ʼn parlementêre vraag van adv. Anton Alberts van die VF Plus – dat enige laat kennisgewing geen meer regskrag het nie. Tog is betaling vir laat kennisgewings steeds afgedwing.

• Die gebrekkige diens van die poskantoor het veroorsaak dat talle kennisgewings laat uitgestuur is. Daar was selfs ʼn tyd waar RTIA nie die poskantoor betaal het vir die versending van die Aarto-kennisgewings nie en gevolglik is die kennisgewings eenvoudig nooit uitgestuur nie.

• Verder is geen behoorlike infrastruktuur in plek gestel om die groot aantal vertoë te hanteer nie. In ʼn stadium het die Johannesburgse metropolisie Aarto-funksies uitgevoer waarvoor dit nie gemagtig was nie, soos om self vertoë te bereg.

• Die metropolisie in Johannesburg het by talle geleenthede padversperrings geskep waar motoriste gedwing is om onmiddellik hul boetes te vereffen, terwyl die wetgewing nie sulke optrede magtig nie.

• Die ergste geval van Aarto-wanbestuur was die tye waar daar vir maande lank eenvoudig geen kennisgewings uitgereik is nie. In hierdie tye was daar onder ANC-bestuur in effek geen polisiëring van wetsverbreking op die Johannesburgse en Pretoriase paaie nie, aangesien die werking van die vorige en meer effektiewe Strafproseswet om padverwante misdrywe te vervolg, eenvoudig nie toegepas is nie.

Dis duidelik dat die Aarto-stelsel gesofistikeerd is en ʼn omgewing van integriteit en hoë standaarde om te werk, vereis.

Tot dusver is só ʼn omgewing nie geskep nie. Inteendeel, die nuwe stelsel het eerder die omgewing geskep vir talryke misbruike tot nadeel van die publiek sonder dat die tersaaklike paaie veiliger geword het.

ʼn Ernstige vraagteken hang oor die poskantoor se vermoë om die miljoene toekomstige Aarto-kennisgewings namens meer as 2000 plaaslike regerings af te lewer sodra die stelsel amptelik op nasionale vlak in werking gestel word.

Aarto is in wese ʼn simbool van die ANC-regering se onbevoegdheid om enige moderne stelsel tot voordeel van die land te bestuur.

Die stelsel sou net kon slaag in daardie plaaslike regerings waar koalisieregerings waarvan die VF Plus deel vorm, in beheer is, soos die Tshwane-metro.

Uiteindelik sal Aarto net landwyd kan slaag indien ʼn koalisieregering, waarvan die VF Plus deel is, die nasionale verkiesing in 2024 wen.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.