Die Hooggeregshof in Pretoria het vandag opnuut die jarelange standpunt van die VF Plus bevestig dat die Padverkeer-oortredingsagentskap (RTIA) die Aarto-wet op ‘n onwettige wyse toepas en dit moet nou duidelik raak Aarto is ‘n mislukking wat geskrap moet word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Die hof het bevind dat die agentskap nie mag appelleer teen ’n hofbeslissing in Februarie vanjaar hieroor nie. Dit kan meebring dat duisende verkeersboetes wat onder die Aarto-wet uitgereik is, geskrap sal moet word.
Adv. Alberts sê die kernprobleem met Aarto is dat dit padgebruikers wat kennisgewings van oortredings ontvang nie die geleentheid bied om hulself te verdedig nie.
“Die les hierin vir die staat is dat hy sy eie wette behoorlik moet toepas. Tans word Aarto op ‘n velerlei wyses onwettig toegepas.
“Aarto is duidelik ‘n gemors en moet geskrap word. Tans maak dit paaie eerder onveiliger aangesien sommige padgebruikers die gebreke in die stelsel besef en weet hulle kan straffeloos bestuur omdat daar nie gevolge vir hul oortredings kan wees nie.
“Die VF Plus dring daarop aan dat alle boetes wat nie prosedureel korrek is nie, verwyder word van die register van oortredings. Die volgende boetes kan daarom ingevolge die hofuitspraak onwettig en onafdwingbaar wees,” sê adv. Alberts. (Hier volg die voorbeelde):
a. Boetes waarvan kennisgewings nie binne 40 dae van die oortreding uitgereik is nie;
b. Kennisgewings wat nie per geregistreerde pos of op die persoon self beteken is nie;
c. Kennisgewings wat verwys is vir beregtiging deur die PVOA wat nooit bereg is nie;
d. Kennisgewings wat na die hof verwys is en wat nie spoedig daar bereg is nie;
e. Kennisgewings waaraan die ontvanger niks gedoen het nie en waar daar 64 dae verstryk sonder dat die PVOA ‘n versoekbrief (Courtesy Letter) aan die persoon gestuur het;
f. Indien ‘n persoon wel ‘n versoekbrief ontvang het en niks daaraan gedoen het nie en PVOA nooit opgevolg het met ‘n dwangbrief (Compliance Letter) nie;
g. Indien die padgebruiker wel ‘n voorlegging oor die oortreding gemaak het aan PVOA en daar is geen besluit geneem oor die voorlegging nie;
h. Indien PVOA wel gereageer het op ‘n padgebruiker se voorlegging, maar die uitkoms verskil van enige ander soortgelyke voorleggings insake ander oortredings van die padgebruiker – wat onder meer in Vrydag se saak gebeur het – en wat daarop dui dat PVOA se voorleggingsbeamptes arbitrêr en inkonsekwent optree.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403


