fbpx
Vryheidsfront Plus

Wye konsensus dat president se ekonomiese herstelplan niksseggend is

"President Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan bevat niks nuut nie en niks is gesê wat nie reeds gesê is sedert hy in 2018 president geword het nie. Daaroor bestaan wye konsensus onder al die relevante rolspelers in Suid-Afrika," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die vraag moet gevra word waarom Suid-Afrika in sy huidige benarde situasie verkeer. Hier kan die vinger om verskeie redes net na die ANC gewys word op al drie vlakke van regering en veral op plaaslike regeringsvlak.

"Ten eerste swak dienslewering. Dit is waarom daar soveel landwye protesaksies is, wat te verwagte is wanneer ‘n gemeenskap byvoorbeeld vir dae sonder water is.

"Wat korrupsie aanbetref, is daar waarskynlik geen vlak van regering of enige projek waarby die regering betrokke is, waar daar nie korrupsie is nie. Volgens die spesiale ondersoekeenheid (SOE) is meer as twee derdes van die geld wat vir beskermende toerusting bewillig is, wanbestee of gesteel.

 

"Dit nieteenstaande die president se versekering met die aanvang van die inperking dat daar nie korrupsie sal wees met die noodfonds nie. Die ANC se korrupsie-siekte is straks veel erger as die Covid-19-pandemie."

 

"In die derde plek is die swak bestuur en verkeerde besluite wat die president en die regering geneem het met die pandemie.

"Die president is by herhaling tydens die inperking gevra, ook deur die VF Plus, om die ekonomie te ontsluit om ‘n tragedie af te weer. Hy wou nie daarop ag slaan nie, en die waarskuwings het gerealiseer.

"President Ramaphosa moet ‘n kopskuif maak om die ekonomie te laat groei. Hy is tans vasgevang in die ANC se ideologie van sosialisme en kommunisme.

 

"Hy vra die privaatsektor om toe te tree tot projekte om werk te skep, maar met die regering as projekbestuurder. Niemand sal daarby inkoop nie. Maak eerder die privaatsektor die projekbestuurder om sukses te behaal."

 

"Die regering moet besef die staat kan nie werk skep nie. Om 800 000 werksgeleenthede te skep, sal die belastingbetaler se geld gebruik moet word. Die staat het nie geld nie.

"Staatskuld sal teen die einde van die huidige mediumtermyn-begroting na raming R4,8 biljoen beloop. Dié geld sal net deur verhoogde belasting verkry kan word.

"Daar sal veral weggedoen moet word met onteiening sonder vergoeding indien die regering enige hoop wil hê om beleggers na die land te lok," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.